‘Dr. Marius, ons treur oor jou heengaan’
"Hy was 'n liefdevolle omgeemens; 'n saggeaarde, plat-op-die-aarde-mens en altyd nederig"
Eerste gepubliseer in Vaalweekblad van 16 Maart 2022
VANDERBIJLPARK. – “Soms kruis jou pad met ‘n besondere mens… iemand wat omgee, empatie toon en ‘n positiwiteit uitstraal wat almal wat hom ken en saam met hom werk, inspireer. So ‘n geliefde kollega was dr. Marius Cloete by Cormed. Sy heengaan laat ‘n groot leemte in die Cormed-span.”
Dié roerende boodskap op Cormed Spreekkamers se Facebookblad verwoord ook die emosie van familielede, vriende en pasiënte van dr. Cloete na sy onverwagse dood op 5 Maart. Almal wat hom geken het is die Saterdagoggend geruk deur die tragiese nuus oor sy afsterwe. Dit was mev. Ria Cloete, sy geliefde “Moekie” soos hy haar genoem het, wat die oggend in sy huis op sy liggaam afgekom het. Daar waar hy homself aan die slaap gemaak het om nie weer wakker te word nie. ‘n Groetbriefie is agtergelaat, maar die inhoud is te persoonlik vir sy naasbestaandes om te deel.
“Hy het vanaf Covid aan uitbranding gely. Hy het homself oorwerk en kon nooit nee sê nie. Hy het sy pasiënte altyd eerste gestel. Hy wou nooit afvat nie want dan het dit vir hom gevoel of hy hulle in die steek laat,” sê sy gebroke suster, Maureen. Marius is op 5 Mei 1992 in Mediclinic Vereeniging gebore en het aan Laerskool Kollegepark en Hoërskool Driehoek skoolgegaan voordat hy aan die Universiteit van Pretoria as mediese dokter gekwalifiseer het. Dit was van kleins af duidelik dat hy vir die mediese beroep in die wieg gelê was, sê Maureen.
“Wanneer ons ouers hom as kind gevat het om speelgoed te gaan koop, het hy altyd iets gekies wat met dokters verband hou. Hy het sy kop op dié beroep gesit en wou niks anders word nie, en hy het sy droom verwesenlik. “Hy was ‘n liefdevolle omgeemens; ‘n saggeaarde, plat-op-die-aarde-mens en altyd nederig,” sê Maureen.
“Hy was ‘n oggendmens wat al 04:00 soggens opgestaan het.” Sy ouers, pa Louis en ma Ria Cloete, sal altyd onthou hoe Marius dikwels soggens na hul huis gekom het en dan sommer tussen hulle op hul bed kom lê het. Die band tussen broer en suster was ook besonder heg. “Hy het my graag Mall toe gevat en ons het lekker gaan fliek, sushi geëet en oor alles en nog wat gepraat,” sê Maureen. Hy word buiten sy ouers en suster ook deur sy ouma, ooms, tannies, niggies en neefs oorleef.
Volgens sy kollegas by Cormed het dr. Marius ‘n vars uitkyk en briljante kennis gehad wat medisyne betref, en sy besorgdheid oor sy pasiënte het hom geliefd gemaak. Die talle boodskappe wat deur sy pasiënte op Facebook geplaas is, getuig ook daarvan dat hy vir baie soos ‘n vertroude vriend was en nie net hul dokter nie. Hy het veral ‘n talent gehad om angstige pasiënte – van kleuters tot bejaardes – op hul gemak te stel.
Te midde van hul verdriet is daar ook dankbaarheid by sy gesin. “Ons wil eerstens vir God dankie sê dat Hy Marius vir amper 30 jaar aan ons geleen het. Ons is ook die Here dankbaar dat Hy saam met ons deur hierdie hartseer tyd gaan. Dankie ook aan ons familie, vriende en die gemeenskap. Ons is oorval met liefde en omgee en is regtig geseënd met amazing mense in ons lewe,” is sy gesin se boodskap. Cormed was Vrydag gesluit sodat kollegas en personeel die huldigingsdiens by River of Life-gemeente kon bywoon. Die spreekkamerpersoneel se afskeidsgroet sal nog lank in baie harte weerklink: “Dokter Marius, ons treur oor jou heengaan. Mag jy sag rus in vrede.”
FOTO’S ONDER: SO SAL DR. MARIUS SE GELIEFDES EN PASIëNTE HOM ONTHOU.










