Sewe diep wonde nadat honde ‘n drawwer op straat aanval
Die honde wat Lindie gebyt het, behoort glo aan ‘n oud-akademikus wat aan ‘n plaaslike opvoedkundige instelling verbonde was

VANDERBIJLPARK. – Waarskuwings is die afgelope jaar toenemend op SW5 se WhatsApp-groepe geplaas oor voorvalle waar voetgangers skuiling moes soek teen aggressiewe honde wat hulle op straat wou bestorm. Dit is veral drawwers, stappers en fietsryers wat gereeld in losloperhonde se visier kom en dan vinnig spore moet maak as dit lyk of die diere hulle gaan aanval.
Verskeie inwoners het glo kwaai honde wat gereeld uit hul erwe kom wanneer die eienaars met hul voertuie in- of uitry. Sommige huiseienaars los glo ook hul hekke uit agtelosigheid oop en hul honde stap dan onbeheerd in die strate rond.
Lindie*, ‘n 46-jarige inwoner van die gebied, is een van die ongelukkige slagoffers vir wie die honde se byt beslis erger was as hul blaf. Sy sit vandag met diep littekens nadat sy op 10 Augustus verlede jaar deur twee Duitse wolfhonde (Alsations) op straat aangeval is.
“Ek het vroegoggend, omstreeks 06:00, verby ‘n huis in Mozartstraat gedraf toe die huiseienaar se twee honde my van agter gestorm het. Met die omdraaislag het ek geval. Die een hond het my aan die kuit beetgekry en die ander een aan my bolyf. My gille en hulpkrete het nie gehelp nie… niemand het in die vroeë oggendure uitgekom om te help nie,” vertel Lindie oor haar skokervaring.
“Ek het hulle in die naam van Jesus bestraf en toe laat los hulle, maar hulle het weer aanhou kom vir my. Ek het hulle aanmekaar in ‘n kwaai stem berispe en toe het hulle net skielik omgedraai en gehol. Ek is seker hulle het ‘n engel gesien,” sê dié diepgelowige vrou. Sy glo dit was ‘n wonderwerk dat sy die aanval oorleef het en is dankbaar dat die honde haar nie aan die keel beetgekry het nie.
Die beseerde Lindie het na haar huis, sowat ‘n kilometer verder, aangesukkel terwyl bloed uit haar wonde gestroom het. Sy het gapende wonde aan haar kuit, asook wonde aan haar voorarm, bo-arm, heup en een bors gehad. Haar buurvrou het haar Cormed-hospitaal toe geneem, waar dr. Pieter Lategan haar wonde met tientalle steke geheg het – 22 daarvan in haar kuitwond alleen. Lindie kon vir sowat ‘n maand na die voorval nog nie behoorlik loop of werk nie.
“Die kuitwond het baie ernstige infeksie gekry. Ek moes twee maal per dag vir twee weke lank binneaarse antibiotika by noodgevalle ontvang. Hierdie was amper erger as die hondbyt want my lewer wou nie meer al die medikasie verwerk nie. Ek was aan’t jeuk en geswel en het gelyk soos ‘n tarentaal sonder vere! Die infeksie het steeds nie opgeklaar nie. Na nóg ‘n doktersafspraak en snye om die wond te dreineer, sowel as nog vyf dae se antibiotika, het die infeksie begin opklaar. Die steke kon eers op 23 September, sowat ses weke na die aanval, uitgehaal word.”
Sy is nie die enigste een wat al gebyt is nie. ‘n Tuinier van die omgewing moes ook op 21 Januarie verlede jaar doktersbehandeling kry nadat hy glo deur dieselfde honde gebyt is.
“Menige drawwer en stapper wat die buitelug wil geniet, se lewe word in gevaar gestel deur sulke losloperhonde. ‘n pitbull-eienaar in Sibeliusstraat se honde het ook ‘n man wat met sy twee Jack Russels verbygestap het, gestorm en sy een hondjie het ontsaglike beserings opgedoen. ‘n Honde-eienaar het ‘n verantwoordelikheid om hul diere te leer, en as hulle nie die dier kan leer nie, moet hulle maatreëls in plek stel wat keer dat hul honde by die hek kan uithardloop as hulle uitry. ‘n Groot hond, maak nie saak hoe vriendelik of saggeaard hy in jou familie-opset is nie, is ‘n wapen in jou besit.
Mense besef nie hoe gevaarlik ‘n hond kan wees en dat hulle verantwoordelikheid vir hul honde se aksies moet vat nie,” sê sy.
Die honde wat Lindie gebyt het, behoort glo aan ‘n oud-akademikus wat aan ‘n plaaslike opvoedkundige instelling verbonde was. Hy is die beskuldigde in die hofsaak, wat verlede week in Vanderbijlpark se landdroshof voorgekom het. Die partye het op 17 Maart hul slotbetoë gelewer en die uitspraak word op 4 April verwag.
* Lindie se van word op versoek weerhou.

Foto’s onder: Die wonde aan Lindie se been was weke later nog erg geïnfekteer. Dit het nou genees, maar die littekens is nog duidelik sigbaar.


!!!! WAARSKUWING: DIE FOTO’S HIER ONDER IS VAN LINDIE SE BESERINGS KORT NA DIE VOORVAL EN KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL. MOENIE ONDERTOE ROL AS JY GRIL VIR BLOED EN WONDE NIE!



****************************************************************************************************


