News

Hennie (82) deel sy tuin met interessante inwoner

"Hierdie is ‘n merkwaardige diertjie en in my lewe van 82 jaar is dit slegs die tweede een wat ek teëgekom het"

 

 

Hennie Steyn van Vanderbijlpark skryf:

Ek het sowat sewe jaar gelede ‘n interessante spinnekop in my tuin ontdek en was veral verbaas om te sien hoe dit water drink as dit beskikbaar kom.

Dit word ‘n Golden orb weaver genoem. Dit het die mooiste kleure en tree op soos geen ander spinnekop nie.

Sy web sit skuins. Jy kan sy ruggedeelte heeltyd waarneem en dit kom voor om soos ‘n gesiggie te lyk. Weens die vorm van die web kan jy nooit sy maag afneem nie.

Waar hy sit is twee grofgeweefde merkers en hy werk tussen die merkers. Daar vang hy sy prooi, spin dit toe en suig dan die inhoud uit en eet dit. Dan laat val hy die leë kokon en die akkedisse eet dit.

Merkwaardigste is as jy die tuin natspuit, gaan hy af water toe sodat hy kan nat word. Dan gaan hy terug tussen sy merkers in en drink die water van sy liggaam af.

Aan die einde van sy lewensiklus, so lyk dit my, klim hy in ‘n bossie daar naby in en spin homself toe.

Hierdie is ‘n merkwaardige diertjie en in my lewe van 82 jaar is dit slegs die tweede een wat ek teëgekom het, en presies op een en dieselfde plek as die eerste een.

 

Die spinnekop in Hennie Steyn se tuin, uit verskillende hoeke afgeneem.

 

 

**************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button