Toestand van Ou Sharpeville-polisiestasie-erfenisgebied ’n ‘belediging vir die slagoffers van die Sharpeville-slagting’
Die Demokratiese Alliansie (DA) se skadu-LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, Kingsol Chabalala, sê die Ou Sharpville-polisiestasie erfenisgebied is in ’n haglike toestand en ’n belediging vir die slagoffers van die Sharpville-slagting van 21 Maart 1960.
Die DA het onlangs ‘n oorsig inspeksie by die Ou Sharpeville-polisiestasie gedoen.
Die party sê in ’n verklaring hy is teleurgesteld oor die haglike toestand van die infrastruktuur en omgewing in die algemeen.
Volgens Chabalala is die gebied veronderstel om ‘n erfenisterrein te wees wat die geskiedenis van die polisiestasie en die historiese gebeure rondom die Sharpville-slagting vertel, maar die kliëntediens-area is in ‘n vaardigheidsontwikkelingsentrum verander en die selle is in klaskamers omskep.

Hy sê die fasiliteit is aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit oorhandig toe die nuwe Sharpville-polisiestasie destyds geopen is.
Die Ou Sharpville-polisiestasie is toe as ’n provinsiale erfenisterrein verklaar en later as ’n nasionale erfenisterrein erken.
Die gebied is ook deur UNESCO genomineer om ’n Wêrelderfenisgebied te word.
Die nominasie is volgens Chabalala voordelig vir die toerismesektor in die gebied en kan Sharpville op die wêreldwye kaart plaas en ’n positiewe bydrae tot die ekonomie lewer.
Die erfenisgebied is egter afhanklik van die staat vir finansiële hulp.
Chabalala skryf in ’n persverklaring: “Terwyl die land steeds Menseregtemaand vier (wat gegrond is op die herdenking van die Sharpeville-slagting) is die Ou Sharpeville-polisiestasie-erfenisterrein in ’n haglike toestand.
“Dit is ‘n belediging vir die slagoffers van die slagting, sowel as die inwoners van Gauteng,” sê Chabalala.

Volgens Chabalala kan die blaam hiervoor voor die deur van die Gautengse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning (SACR) gelê word wat die instandhoudings- en bedryfstoelae vir hierdie gebied gestaak het.
Hy sê die departement se staking van instandhoudings- en bedryfstoelae ontneem inwoners van die geleentheid om uit hierdie fasiliteit, wat die potensiaal het om die plaaslike ekonomie te stimuleer, te baat.
“Die gebied kan beleggers lok en werkgeleenthede vir werklose inwoners, in besonder jongmense, skep.
“Dit is veral hartseer aangesien die land steeds Menseregtemaand vier, maar die Ou Sharpeville-polisiestasie wat deel vorm van die Menseregte-gebied in Sharpeville nie behoorlik onderhou word nie en nie ten volle in werking is nie. Hierdie gebied het behoorlike gereelde instandhouding dringend nodig,” meen Chabalala.
“Daar is ‘n behoefte aan fondse om die bewaring van geskiedenis te verseker. Ons kan nie hulde bring aan die opofferings van ons helde terwyl die fasiliteit nie ten volle operasioneel is nie en nie behoorlik onderhou word nie.”

Die DA eis antwoorde van die Gautengse LUR vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Mbali Hlophe oor hoekom die departement opgehou het om hierdie fasiliteit te finansier en wie vir die instandhouding en bedryfskoste verantwoordelik is.
Volgens Chabalala sal skriftelike vrae in die Gauteng Provinsiale Wetgewer gerig word om te bepaal hoeveel die aanvanklike toekenning vir hierdie sentrum was en wie vir hierdie fasiliteit verantwoordelik is.
“Die meeste van die Gautengse erfenisterreine is in ‘n toestand van verval terwyl sommige onvolledig en nie funksioneel bly nie, maar die departement slaag nie daarin om sy hele begroting jaar na jaar te bestee nie.
“Die DA sal nie sit en toelaat dat LUR Hlophe se departement so ‘n historiese terrein vir die mense van Sharpeville en die hele Gauteng in gevaar stel nie, aangesien dit van kardinale belang is om voort te bou op die lesse wat uit die Sharpeville-tragedie geleer is en die ongeregtighede van die verlede reg te stel,” sê Chabalala.

