
Deur Raadsheer Phil C. Pretorius, DA Hoofsweep, Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Onlangs sien ek ‘n dokumentêre program oor die skep van samesmeltingselektrisiteit (fusion) in die Verenigde Koninkryk. Ek sê “sien” want “kyk” impliseer dat mens dit verstaan.
Wel, ek het darem die “’n’s” en “die’s” verstaan. Dankie tog dat daar mense is wat hierdie ongelooflike komplekse prosesse verstaan en gekonseptualiseer het. Hierdie tegnici laat mens “minder intellektueel” voel en ek besef dat dit die geval is vir 7 899 999 000 van ons op aarde. Die wêreld populasie is 7.9 biljoen.
Wyl ek hulle beny besef ek skielik dat talle van die tegnici moontlik met die vermoë sit om biljoenêrs te wees, maar nie noodwendig die talent om dit in ‘n besigheidsplan te kan omskep nie. Die wat wel so gelukkig is om in so omgewing opgeneem te word, het dalk nie die interpersoonlike vaardighede wat sosiale integrasie verlang nie. Al voel ek elke pot het sy deksel, is dit egter tog die sosiale vlinders wat meer romanse beleef. Maar, ons is nie almal James Bond nie en dus kan ons nie almal aantreklik, slim, sterk en viriel wees nie.
Wat sal ons doen as die ingenieur die interseksie ontwerp maar daar is niemand om dit te bou nie? Wat sal gebeur as ons hordes teoretici het wat wik en weeg hoe die water gesuiwer kan word maar niemand om in te klim en dit te doen nie? Wat maak ons sonder die persoon wat die ligte aan en af sit vir beurtkrag? Moet dit nie antwoord nie. Wie moet ons vullis optel en wegry, aan ‘n trok hang en in daardie werksomstandighede fluit-fluit deur ons strate jou nog vriendelik groet ook?
Daar is talle van hierdie belangrike loopbane wat ek nie sal kan doen nie en talle wat ek nie eers ‘n idee het waar om te begin nie. Dit is egter eers wanneer ons sonder belangrike werkers oor die weg moet kom wat ons besef hoe belangrik hulle werk in ons samelewing is. Walt Disney het in ‘n onderhoud gesê dat sy broer Herbert, die slim Disney was. Hy noem hom so want hy was ‘n posman. Disney het gesê hy beny hom, want so slim as wat Herbert was, het hy gekies om te doen waarvan hy hou en nie wat ander wou hê hy moes doen om baie geld te maak nie. Dit het hom ‘n lewe gegee van rus en vrede wat Walt nie gehad het nie.
Al kies almal nie noodwendig die loopbaan wat hulle uiteindelik beoefen nie, kan ons wel sê dat ons talente ons redelik stuur in die rigting waarin ons opeindig. Die geheim is om dit wat jy doen te geniet en so goed as moontlik te doen. Dr. Martin Luther King jr. het dit so opgesom: As ‘n man geroep word om ‘n straatveër te wees, moet hy strate vee soos Michelangelo geverf het, Beethoven gekomponeer het en Shakespeare gedig het. Hy moet strate so goed vee dat die hemel en aarde sal stilstaan en sê: ‘Hier het ‘n uitstekende straatveër gebly wat sy werk goed gedoen het.’”
So, wees ‘n straatveër, maar wees die beste straatveër in die wêreld.
Ons sê te min dankie. Ons sê te min opreg dankie. Dankie, uit die diepte van my hart, aan al ons werkers op alle vlakke van die munisipaliteit vir julle ongelooflike bydrae tot ons samelewing.
Trotse Midvaal groete, Ph!l.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

************************************************************************************************************



