Moord naby Mittal: Dis ‘n jaar sedert tragedie Peet Snyders se lewe geëis het
Hy is deur sowat 14 koeëls getref en het op die toneel beswyk. 'n Tweede persoon is glo in die voorval beseer, maar die polisie wou geen verdere inligting daaroor bekend maak nie.

VANDERBIJLPARK. – Dit is nou ‘n jaar sedert mnr. Peet Snyders, destyds hoof van ArcelorMittal se kooksaanleg, op pad huis toe naby Mittal vermoor is.
Die 47-jarige mnr. Snyders was die aand van 17 Maart 2021 op pad huis toe, toe hy omstreeks 19:00 by die kruising van Delfos- en Hertz-boulevard doodgeskiet is. Ooggetuies het beweer dat hulle gesien het hoe vier mans met wit klapmusse vanuit ‘n groen motor op mnr. Snyders se voertuig skiet.
Hy is deur sowat 14 koeëls getref en het op die toneel beswyk. ‘n Tweede persoon is glo in die voorval beseer, maar die polisie wou geen verdere inligting daaroor bekend maak nie.
Inligting rondom die tragedie was skraps, en ArcelorMittal SA het dadelik ‘n beloning van R50 000 beloof aan enigeen wat inligting kon verskaf wat sou lei tot die inhegtenisname en skuldigbevinding van die moordenaars.
Mnr. Snyders is in 2019 as hoof van die kooksaanleg aangestel nadat hy ‘n geruime tyd in Spanje gewerk het. Mnr. Kobus Verster, uitvoerende hoof van ArcelorMittal, het hom as ‘n “wonderlike ou en ‘n hardwerkende, toegewyde mens” beskryf.
Na die moord op mnr. Snyders is daar onder sommige werknemers van Mittal bespiegel dat dit moontlik ‘n wraakaanval was, nadat drie Mittalwerknemers ‘n paar weke voor sy dood in ‘n ongeluk by die kooksoonde waar hy die hoof was, gesterf het. Sover Vaalweekblad kon vasstel, is daar tot dusver nog geen bewyse vir sulke bewerings nie.
- Vaalweekblad het hierdie week by die SAPD navraag gedoen of daar al enige vordering met die moordsaak gemaak is maar het nog nie terugvoer ontvang nie. Indien enige nuwe inligting na vore kom, sal hierdie berig opgedateer word.



***********************************************************************************************************************

