Ek sê maar net…
Rubriek. - Is nou twee jaar al wat covid ons lewe versuur, maar die hoop beskaam nie ...
Die laaste week is almal aan’t denke oor al die dinge wat die afgelope twee jaar gebeur het.
Dis nou van daardie eerste keer wat ons die woord koronavirus gehoor het. Later het almal van Covid begin praat.
2020. Nie ‘n jaar wat ons gou gaan vergeet nie. Al wil ons.
Daardie eerste weke was soos iets uit ‘n riller fliek. Ek haat rillers!
Maar ja, ek onthou hoe het ons voor die winkels gestaan in lang rye. Totaal onseker oor wat ons mag koop en wat nie.
Daardie tyd was mens amper te bang om iemand in die oë te kyk, wat nog van mee te praat.
Die regulasies was vreemd. Die aanpassing moeilik. Ingeperk. Grendelstaat.
Ek was gelukkig. Die media het nie ophou werk nie. Ons het van die huis af begin werk. Telefoniese onderhoude gedoen.
Ek onthou die eerste keer wat ek dit weer gewaag het om Vrystaat toe te ry.
Spesiale permit op die sitplek om te sê ek is “noodsaaklike dienste”. Vir my gevoel ek ry nou na ‘n ander land toe.
Was eintlik teleurgesteld niemand het my gestop dat ek die permit kon wys nie.
Teen Desember 2020 het ons begin asemhaal. Regtig gedink die virus is verby. Die provinsies was oop. Ek kon plaas toe ry. Ja nè, ek het nog gekuier toe slaan die tweede vlaag.
Tevergeefs het ons gehoop dis die einde. Tot op daardie stadium was die Vaal redelik rustig en toe… toe kom Delta.
Dink nie my redakteur sal die woorde toelaat wat ek oor die Delta-variant wil kwytraak nie.
Die winter van 2021. In my lewe het ek nog nooit so iets beleef nie. Die koerant het oornag verander in ‘n begrafnisbrief. Die Vaal is lelik getref.
Die virus het al hoe nadergekruip. ‘n Bekende … ‘n kennis … Nader. Tot in ons erf. Ons huis. My lyf.
Die nadraai. Die leë stoel in die huis. Die stem(me) wat stil geword het in so baie huise.
Ons leer nog nuwe woorde. Lang Covid. Post traumatiese Covid-sindroom. Die moegheid.
Die dankbaarheid teenoor spesialiste en hospitaalpersoneel bly. Die beelde van geel oorjasse en moeë oë spook soms nog in die nag. Probeer om nie te veel te onthou nie.
Mense vrae mekaar wat het ons die afgelope twee jaar geleer?
Wel, ek het myself leer hekel deur YouTube video’s te kyk. Dis goed.
Ek het ook besef die pandemie het die ergste en die beste uit mense na vore gebring. Ons is almal met ‘n warboel emosies gelaat wat op verskillende maniere uiting kry.
Daar was die verskriklike bekgevegte tussen die sleutelbordkrygers oor die inentings, die fopnuus, die komplot-teorieë, die slegsê van almal van die media tot by die president. Maar ook die mense wat net uitgereik en gehelp het met wat hul kon, waar hul kon.
Intussen is die virus nog steeds daar buite. Die beperkings is minder. Die maskers is steeds te warm. Die bekgevegte op sosiale media duur voort.
Baklei as jul wil baklei. Ek weet wat Covid aan liggaam en siel kan doen. En ja, ek het my inenting en booster shot gekry.
Dankie vir almal wat steeds voortveg teen die virus. Dankie vir elkeen wat elke dag vir ure agter warm maskers swoeg om kliënte te bedien, pakkies te pak, medisyne uit te reik, petrol in te gooi, pasiënte te sien, vloere te vee, operasies uit te voer, mense rond te ry, klas te gee en ja ook artikels te skryf.
Mag ons oor twee jaar steeds hier wees om met hoop voort te gaan.


