News

Wetsgehoorsame vrou hoor haar voertuiglisensie is skielik “opgeskort”

"Hulle sê net die ‘sisteem’ sê die polisie het my lisensieskyfie verwyder, en dis al."

VANDERBIJLPARK. – Hoe gemaak as jy jou voertuiglisensie wil hernu maar dit nie kan doen nie omdat jou bestaande lisensie sonder jou medewete opgeskort is?

Dit is die frustrerende situasie waarin mev. Louise Schuhknecht haar onlangs bevind het toe sy die voertuiglisensie van haar Volkswagen Polo in Vanderbijlpark wou hernu.

“Amptenare het my kwaai vertel dat die polisie my voertuiglisensie by ‘n padblokkade afgevat het, so ek moet my kar na die toetsgronde in Vereeniging neem vir ‘n hertoets. Hulle sê net die ‘sisteem’ sê die polisie het my lisensieskyfie verwyder, en dis al. Dit is die grootste leuen onder die son. Geen bewys nie, geen brief nie, niks. En jy kan maar enigiets probeer. Hulle weier net om die lisensie uit te reik,” sê Louise.

‘n Mens kan dié raakvatter-vrou min vertel oor voertuie en voertuiglisensiëring aangesien sy en haar man reeds dekades lank verbonde is aan ‘n gerespekteerde familiesaak wat in voertuigherstelwerk spesialiseer. Louise sê daar was beslis geen voorval waar haar voertuiglisensie weggevat is nie en haar lisensieskyfie was inderdaad nog steeds op haar windskerm. Sy ry toe nietemin na Vereeniging se toetsterrein en staan ‘n uur in die ry, net om te hoor dat hulle slegs 15 voertuie per dag toets en dat niemand haar dié dag gaan help nie.

Douvoordag die volgende oggend was sy terug in Vereeniging en hoor toe sy moet betaal om haar voertuig weer deur die toets te sit.

“Ek wys toe vir die meneer die lisensieskyfie is nog op die windskerm, maar hy stel nie belang nie… R250 en ‘n toets later kon ek weer my lisensie kry,” sê sy.

Louise sê ‘n mens kan vergewe word as jy vermoed dat dit ‘n nuwe manier van verkeersafdelings is om maklik geld te maak. “As 1 000 karre verkeerdelik só op die stelsel gemerk word en elke voertuigeienaar moet R250 betaal om dit weer deur die toets te kry, is dit ‘n vinnige R250 000 inkomste vir verkeersafdelings sonder om ‘n vinger te verroer. Elke dag iets nuuts in die land van ons!” sê sy.

Volgens Solidariteit Regsdienste is verkeersbeamptes geregtig daarop om ‘n lisensieskyfie uit ‘n voertuig te verwyder en die voertuig onpadwaardig te verklaar indien daar vermoed word dat dit glad nie aan die vereiste standaarde voldoen nie. ‘n Spesifieke proses moet egter gevolg word. Dit is byvoorbeeld praktyk dat die wetstoepasser dadelik ‘n skriftelike kennisgewing aan die voertuigbestuurder moet uitreik om die gebruik van die voertuig te staak. Daar kan selfs beslag op die voertuig gelê word indien dit duidelik onpadwaardig is. Die opskorting van jou voertuiglisensie of die beslaglegging op jou voertuig mag egter nie sonder billike gronde gedoen word nie. Dit is absoluut ongehoord dat ‘n voertuiglisensie by ‘n padblokkade opgeskort sal word sonder dat die voertuigbestuurder daaroor ingelig is.

* Motorbestuurders wat wil seker maak dat hul voertuie nog geregistreer is, kan die webwerf www.enatis.com besoek. Dit is die amptelike webwerf van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verkeersinligtingstelsel en verskaf gedetailleerde inligting oor die eNaTIS. Die stelsel word onder meer gebruik as amptelike register van gelisensieerde voertuie en bestuurders in Suid-Afrika.

Die Padverkeersbestuurskorporasie moedig die publiek aan om verkeersverwante bedrog en vermoedelike korrupte aktiwiteite aan te meld by die Nasionale Verkeers Teen-Korrupsie-eenheid. Dit kan gedoen word by die e-posadres: ntacu@rtmc.co.za.

*********************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button