Na 750 dae word Ramptoestand vannag opgehef
Ramaphosa kondig aan dat Covid-19 ramptoestand om middernag eindig
Die ramptoestand weens die Covid-19 virus word om middernag vannag opgehef.
President Cyril Ramaphosa het dié aankondiging vanaand, 4 April 2022, gedoen. Sommige regulasies sal egter vir nog minstens 30 dae van krag bly.
Hoewel die pandemie nog nie verby is nie, is die ramptoestand nie meer nodig is nie, sê Ramaphosa.
“‘n Ramptoestand moet slegs tydelik wees en net voortduur vir solank as wat dit absoluut noodsaaklik is,” sê hy.
Die pandemie sal van nou af kragtens die Wet op Nasionale Gesondheid bestuur word. Gesondheidsregulasies sal voorgelê word vir die publiek se kommentaar, en nuwe regulasies sal na 16 April gepromulgeer word.
Sommige oorgangsmaatreëls bly steeds in plek en sluit die volgende in:
* Die dra van ‘n gesigmasker bly verpligtend binne openbare geboue.
* Daar is steeds ‘n beperking van 1000 mense wat gesamentlik binne ‘n saal mag vergader, en 2000 buite.
* Regulasies vir internasionale reisigers bly van krag. Bewys van inenting of ‘n negatiewe Covid-toets (minder as 72 uur voor vertrek) moet getoon kan word. Indien reisigers dit nie kan toon nie, sal hulle ‘n antigeentoets met aankoms moet laat doen en indien hulle Covid-positief toets, sal hulle 10 dae in isolasie moet deurbring.
* Die betaling van die R350-maatskaplike toelaag bly voorlopig van krag.
* Regulasies wat voorsiening maak vir die verlenging van ‘n leerlingrybewys, rybewyskaart, lisensieskyf, professionele bestuurspermit en registrasie van ‘n voertuig, bly ook van krag.
Ramaphosa sê hoewel die opheffing van die ramptoestand ‘n belangrike mylpaal is, moet almal versigtig en bedag bly omdat die virus onvoorspelbaar is en die situasie vinnig kan verander. Die regering sal steeds in noue verband saamwerk met die Wêreldgesondheidsorganisasie en ander organisasies om alle beskikbare wetenskaplike inligting deurgaans te assesseer.
