Titans Seniors presteer by Streekkampioenskappe
Die Titans Aquatics Klub se vlak 3 swemmers het mooi presteer by die onlangse streekskampioenskappe in Pretoria
VANDERBIJLPARK. – Die Titans Aquatics se 11 – 17 jarige swemmers het in Maart aan die SA Vlak 3 Streekskampioenskappe vir hul ouderdomsgroep deelgeneem.
Die kampioenskappe het in Pretoria by die Hillcrest swembad plaasgevind. Die 9 Titan swemmers het almal besonders goed gevaar.
Hul afrigter, Benny Janssen het gesê hy is baie trots op elke swemmer en glo dat indien hul so voortgaan hulle volgende jaar vir die nasionale kampioenskappe sal kwalifiseer.
Die individuele prestasies was soos volg:

Micah Marx (11) het aan sewe items deelgeneem, drie finale bereik, twee van haar persoonlike beste tye verbeter en ‘n silwer medalje vir die 200m borsslag verower.
Garrick Knoetze (12) het vyf van sy persoonlike beste tye in sewe items verbeter. Hy het vir ses finale gekwalifiseer en uiteindelik met goue medaljes vir die 100m borsslag, 200m individuele wisselslag en 200m borsslag huis toe gegaan. Hy het ook ‘n 3de plek behaal in die 100m vryslag.
Jayden Booysen (13) het sy persoonlike beste tyd in al vyf sy items verbeter, vir vier finale gekwalifiseer en in al vier medajes verower. Hy het goud gekry vir die 100m vlinderslag, silwer vir die 200m individuele wisselslag en die 100m vryslag en brons vir die 200m vryslag. Jayden het ook die Vrystaat by die SA Skole Gala verteenwoordig waar hy ‘n derde plek in 200m vryslag losgeswem het.

Dawson De Vernon (15) het in vier items deelgeneem en baie goed geswem ten spyte van die feit dat hy nog aan die herstel was na ‘n siekbed.
Nathan Fouche (15) het in ses van die nege items waaraan hy deelgeneem het sy persoonlike beste tyd verbeter.

Anri Wenhold (15) het in al ses haar items haar persoonlike beste tyd verbeter en vir die 200m rugslag se finaal gekwalifiseer.
Dandre Pretoris (17) het sy kant in 10 items gebring en in vier daarvan sy eie beste tyd verbeter. Hy het ook vir vyf finale gekwalifiseer en ‘n derde plek in die 50m rugslag behaal.
Mathew Fouche (17) het uit nege items waaraan hy deelgeneem het, vir drie finale gekwalifiseer en sy persoonlike beste tyd in al drie verbeter. Hy het ook goud losgeswem in die 400m vryslag.
Daniel Dos Santos (17) het aan agt items deelgeneem en drie van sy persoonlike beste tye verbeter.

Danieka Bekker (17) het vier van haar persoonlike beste tye verbeter en vir ses finale gekwalifiseer in die sewe items waaraan sy deelgeneem het.

