
Hermien van de Vyver van Jeugland Tuiste vir Bejaardes in Vanderbijlpark, skryf:
Ek was drie jaar oud toe ons van Pretoria af na Vanderbijlpark getrek het. Die destydse Yskor het my pa oorgeplaas. Ek het natuurlik baie stories om oor die dorp te vertel, maar wil ‘n enkele een noem wat ek vir altyd sal onthou.
Ek was ongeveer sewe jaar oud en het pas ‘n nuwe boetie gekry. Die dorp was so klein dat almal kom kyk het na die wonderwerkie, ‘n “seun”, en dit nadat ek altyd die enigste kind was.
Skielik het alles verander. Ons het pas in ‘n huis ingetrek wat my pa vir R4 000 in Ayrtonstraat gekoop het, toe hy in ‘n vreeslike ongeluk was. Hy is by die werk deur ‘n oorhoofse hyskraan teen ‘n muur vasgedruk en sy been was vergruis. Dit was ‘n absolute ongeluk: Die kraandrywer het bo gery en my pa nie onder gesien nie.
My pa was ‘n jaar in die hospitaal. Ons sit toe in ‘n donker huis (die krag is afgeskakel), met kerse in die aand, baba moes in koue water bad en daar was amper geen kos nie. Ek en my ma het elke dag met fietse hospitaal toe gery, met my boetie in ‘n stoeltjie agterop my ma se fiets. Vanaf ons huis moes ons deur ‘n kaal veld waar die sakesentrum (Civic centre) jare later opgerig is, hospitaal toe ry. Nadat ons buurvrou in die einste veld aangerand is, het my pa uit die hospitaal met iemand gereël om vir my ma bestuurslesse te gee sodat ons met die Opel-karretjie hospitaal toe kon ry.
Skielik was daar kloppe aan die deur en vreemde mense het bokse vol kos begin aflewer. En ons het ook weer krag. O ja, en Yskor het vir my ma ‘n werk gegee sodat daar darem geld ingekom het.
In die jaar wat my pa in die hospitaal was, het dit baie Vrydagmiddae gebeur dat die ambulans by ons huis gestaan het as ek van die skool af kom. Hulle het my pa dan gebring om vir die naweek te kom kuier. Sondagmiddae het hulle hom weer kom haal. Die dokter wou my pa se been aanvanklik amputeer maar my pa het geweier. Hy was vir baie operasies want dit wou nie aangroei nie. My pa en die chirurg het elke keer voor ‘n operasie saam gebid. Na volgehoue gebed en ‘n jaar in die hospitaal het die been genees. Nou nie soos ‘n splinternuwe been nie, maar hy kon weer loop!
Na die lang storie wil ek nou net sê, ek was baie klein en baie goed moes my ma my later weer vertel, maar as mens alles bymekaar sit, dui dit op net een ding: Die mense het in dié klein gemeenskappie vir mekaar omgegee.
Hulle het kos aangedra, ons krag betaal, my boetie in die Rooi Kruis Crèche se fooie betaal… Ek was ook daar in die middae na skool. Behalwe Vrydagmiddae as my pa kom kuier het.
Ek het later uitgevind Oom Charlie Herbst van Yskor Welsyn het vir Ma werk gekry, en dit was ‘n dr. Hamman wat my pa elke Vrydag huis toe gestuur het. My pa was toe darem al baie beter, so hy kon al self bad. Wat ek vergeet het om te noem, is dat die man wat die hyskraan gedryf het, my ma geleer het om kar te bestuur. Mag Vanderbijlpark eendag weer so ‘n omgeedorp word.
Foto onder: Wie van julle ken die ou Wawielbrug naby ArcelorMittal?

******************************************************************************************************************

