News

Die Vaal groet meesterbouer wat talle ‘monumente’ nalaat

Wyle Gert du Plessis was onder andere betrokke by die bou van Herfsoord, die Cormed-hospitaal, die administratiewe kantore van die NWU (Vaal), en die nuwe Spur-restaurant in Frikkie Meyer-boulevard

VANDERBIJLPARK. – Familie en vriende van die bekende plaaslike bouaannemer, mnr. Gert du Plessis (78), is in rou na sy dood op Maandag, 28 Maart.

Hoewel dit die afsluiting van sy merkwaardige lewe was, sal sy en sy broer Chris du Plessis se bydrae tot die ontwikkeling van Vanderbijlpark nog lank na sy heengaan in die dorp se annale opgeteken bly.

As eienaars van die bekende Duprojekte was Gert en Chris verantwoordelik vir die oprigting van verskeie bekende geboue en ontwikkelings in die dorp. Dit sluit onder andere Herfsoord, die Cormed-hospitaal, die administratiewe kantore van die NWU (Vaal), en die nuwe Spur-restaurant in Frikkie Meyer-boulevard in.

Gert is op 6 Oktober 1943 in Potchefstroom gebore en het in Randfontein grootgeword. Nadat hy aan die Hoërskool Riebeeck gematrikuleer het, het hy ‘n BSc-graad in Plantkunde aan die Universiteit van Pretoria behaal en daarna aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO klas aangebied.

Sy oorlede pa, mnr. Sarel du Plessis, was in Vanderbijlpark se blomdae ‘n groot bouaannemer in die Vaaldriehoek (SA Bouers). Gert en Chris se belangstelling in bouery het daar begin en in 1972 het hulle in hul pa se voetspore gevolg en hul eie maatskappy, Duprojekte, begin. Dié meesterbouers het in opvolgende jare bekende en hoogs gerespekteerde bouaannemers in die Vaaldriehoek geword.

Volgens die Du Plessis-broers se suster, mev. Annetjie de Lange, was bouwerk nie net ‘n werk vir Gert nie. Dit was ook sy stokperdjie.

“Ons sal hom onthou as ‘n eerlike, opregte en Godvresende man. Hy het 43 jaar in die kerkraad gedien, waarvan 40 jaar as ouderling in die NG Gemeente Vaalrivier. Hy het ‘n hart vir sy medemens gehad en was ‘n groot familieman,” sê sy.

Buiten sy broer en suster word Gert ook deur sy vrou, Stienie, en hul kinders en kleinkinders oorleef. Sy gedenkdiens is Maandag, 4 April, in die NG Gemeente Vaalrivier gehou.

 

Wyle mnr. Gert du Plessis.

 

***************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button