
VANDERBIJLPARK. – Mense wat saans in Lepelhoutstraat, SE3 ry of stap, sal die helderverligte kruis van meer as 2 meter in Barnie en Bernardete Brits se voortuin nie kan miskyk nie.
Bernardete vertel die kruis het ‘n lang geskiedenis en het eintlik as ‘n groot goggavanger in die tuin van hul vorige huis in Doon-rylaan, Drie Riviere Proper, begin. “Ek het nie van die goggavanger gehou nie want ek was bang dit kon vlermuise beseer. Ek het die vangdeel verwyder en net die swaar ysterpaal het bly staan. In my hart het ek altyd gevoel dit moet ‘n nuwe doel kry,” sê Bernardete.
Met haar kunssinnige en diepgelowige aard saal sy toe ‘n onbekende perd op: Sy besluit dit moet ‘n kruis word – natuurlik met Barnie se volle ondersteuning, hoewel hy toe nog nie geweet het waarvoor hy hom inlaat nie. Saam-saam koop hulle toe ‘n dwarspaal by ‘n skroothandelaar om op die hoofpaal vas te bout, sowel as ‘n groot rol doringdraad om horisontaal en vertikaal rondom die kruis te draai. Dit was makliker gesê as gedaan.
“Dit was groot sports! Barnie moes met baie dik handskoene om-en-om die paal loop tot die hele kruis van 2.4 meter behoorlik met doringdraad bedek was,” sê Bernardete. Toe is die “tube lighting” opgesit en veilig gekonnekteer.
“Dit was ons eerste Paasfees saam as getroude paartjie. Omdat ons erf na aan die rivier was, kon die kruis snags van die oorkanste wal af en deur almal wat op die rivier gevaar het, gesien word,” sê Bernardete. Van toe af het die kruis gereeld geskyn – nie net oor Paastyd nie maar sommer enige tyd. Die diepgelowige Brits-egpaar het gereeld saam onder die kruis gebid en in ‘n atmosfeer van vrede en rustigheid nagmaal gehou, selfs toe die omgewing in ‘n stadium onder gewelddadige inbrake deurgeloop het.
“Toe ons die huis verkoop, het ons besluit die kruis gaan saam, al was dit weens die grootte en gewig ‘n yslike uitdaging om dit na ons nuwe huis in Vanderbijlpark te vervoer,” sê Bernardete, ‘n geordende pastoor.
“Die kruis is vir ons nie net ‘n simbool van ons verhouding met die Here en wat ons glo nie. Dit gaan ook nie daaroor om rituele rondom ‘n kruis te doen en net een maal per jaar Paasfees te vier nie. Vir ons is die kruis met sy doringdraad ‘n herinnering en simbool van God se enorme liefde en van Jesus se verskriklike lyding en die prys wat Hy vir ons betaal het. Die kruis staan daar om ons en enigiemand wat dit sien, elke dag daaraan te herinner.”



***********************************************************************

