News

Inwoners staal hulself elke naweek vir botsings by dié draai

“In die vorige ongeluk wat op 26 Februarie vanjaar hier plaasgevind het, was ons eiendomskade byna R30 000. Dit gaan nie net oor die geld nie. My bekommernis is die lewensverlies," - Innes Erasmus

 

GLEN DONALD. – Iwoners van die ou Plaaskombuispad in Glen Donald, Midvaal, sê hulle is besorgd oor die groot aantal ernstige ongelukke wat gereeld op die draai in die pad voorkom.

Een van die inwoners, mnr. Innes Erasmus, sê hulle kon effens asem skep gedurende die inperking toe motoriste nie toegelaat is om na 22:00 saans te ry nie.

Noudat die inperking opgehef is, leef hulle van vooraf in vrees dat voertuie hier gaan bots of van die pad af gaan loop, of selfs in hul erwe gaan injaag.

“Oor naweke, veral op maandeinde, wag ons saans op die geluid van skreeuende bande. Op daardie oomblik maak ons net ​​ons oë toe en wag op die aaklige geluid van ‘n botsing. Dan hardloop ons om te gaan help. En daar is byna altyd beserings,” sê hy.

“Een van die hoofde in Glen Donald se Gemeenskapspolisiëringsforum, Pieter Visser, is ‘n gevorderde nooddiensassistent wat danksy sy mediese opleiding al vele beseerdes op hierdie hoërisiko-ongelukshoek bygestaan ​​het. Midvaal se brandweer en insleepdienste soos A Assist Towing reageer ook altyd vinnig in die nagtelike ure om bystand op sulke ongelukstonele te verleen.

“In die vorige ongeluk wat op 26 Februarie vanjaar hier plaasgevind het, was ons eiendomskade byna R30 000. Dit gaan nie net oor die geld nie. My bekommernis is die lewensverlies as gevolg van die hoë spoed waarmee motoriste om die hoek vlieg,” sê Innes.

Inwoners van die straat het die Midvaal-munisipaliteit gevra om veiligheidsmaatreëls soos padversperrings op die draai aan te bring. Volgens Innes is hulle by die munisipaliteit se laaste geïntegreerde beplanningsvergadering (IDP) beloof dat die projek in die tweede kwartaal van vanjaar aangepak sal word.

Hoewel hy besef dat sulke veiligheidsmaatreëls nie noodwendig ongelukke gaan stop nie, meen hy dit sal bewustheid by die publiek kweek om versigtiger te bestuur.

Intussen versoek hy en ander inwoners van die ou Plaaskombuispad alle motoriste om waaksaam te wees as hulle naby die hoek kom. Die gevaarsone is veral net na die treinspoor op die Donald-pad as mens van Vereeniging se kant af kom.

“Ek en my gesin bid dat almal veilig sal wees op die pad en dat God met die families sal wees wat reeds geliefdes hier verloor het,” sê Innes.

*********************************************************************************************************

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button