‘n Mens hoef net bestuurslisensie te noem en almal ‘ref’ in die rooi. Elkeen het ‘n storie te vertel.
Rillerverhale van ure der ure se staan, van aanlyn afsprake wat nie werk nie, en dan praat ons nie eens van die pryse nie.
Op sosiale media het daar al gevegte uitgebreek oor wat benodig word, waar jy mag gaan en hoeveel jy gaan betaal.
Dit wil voorkom asof almal wat die proses oorleef het, so verlig is daaroor dat hul geheel vergeet wat is nou eintlik betaal en benodig.
My eie lisensiekaart verval eers volgende jaar. Die volgende is hoorsê.
Ek was nie betrokke nie, maar my ma en haar vriendin was en ek reken die twee is betroubare bronne.
Beide se lisensiekaarte verval in April. Een ding het hul van die begin af besef, geen lisensiekantoor in Gauteng gaan werk nie.
Anderkant die Vaalrivier het na uitkoms gelyk.
Dae voor die tyd is daar al met voorbereidings begin.
Kopieë is gemaak van ID-kaarte en huidige bestuurslisensiekaarte (albei kante en gesertifiseer indien jy wou weet).
Oogartse is besoek en die nodige verslae gekry. Daar is state getrek met bankstempels en adresse op en kleingeld versamel.
Die groot gerug is dat die mense anderkant die Vaal nie kleingeld het nie. Verder is daar proviand vir die lankstaan bymekaar gemaak.
Bottels water gekoop, koekies en vrugte. Genoeg kontant, want geen mens kon presiese bedrae gee nie.
Vlak voor 07:00 is Ma by die huis uit.
Groot was my verbasing toe ek 10:02 die boodskap kry: “Ons is klaar.”
Of hulle net ‘n gelukkige dag gekies het en of dit altyd so vinnig gaan, sal ek nou nie weet nie.
Volgens Ma het dinge min of meer soos volg verloop. Hulle het hul stop buite die terrein gekry, motors word nie binne toegelaat nie.
By die hekke is hul identiteitsdokumente geskandeer. Daarna het hul onder koeltebome in die ry geval.
Deure het om 07:30 oopgemaak en ‘n kennisgewing is opgesit om te sê dat die kantore voortaan tot 18:00 oop sal wees. Vorms is uitgedeel.
Na ‘n wyle moes hul hoor die stelsel is af. Ma sê baie mense was dadelik smoorkwaad en hulle het die ry verlaat.
Dit was voordelig vir die wat nog in die ry gestaan het, want toe was die ry korter.
Die stelsel was blykbaar nie te lank af nie en een van die personeellede het van die pensioenarisse uit die ry kom haal.
Binne was almal baie vriendelik en behulpsaam. Ma moes ook ‘n tydelike bestuurslisensie kry en daarvoor is daar binne foto’s geneem. R50.
Hulle het een gebruik en vyf foto’s vir haar gegee. Aangesien hul reeds oogverslae gehad het, is hul oë nie weer getoets nie.
Verder het Ma R48 vir die tydelike lisensie betaal en R186 vir die lisensiekaart. Kleingeld is verskaf.
Na bewering kan die bestuurslisensiekaarte oor drie maande afgehaal word.
Wat kan ons hier uit aflei? Dit help om positief te bly. Moenie jou te veel steur aan gerugte op sosiale media nie.
Indien moontlik, gaan doen aansoek vir jou nuwe bestuurslisensiekaart drie maande voordat die oue verval, so kan jy amper R100 spaar.
Wat beteken ek moet begin November ‘n draai daar maak. Ek hoop teen daai tyd is die gerug dat lisensiekaarte moontlik 10 jaar geldig gaan wees al waarheid.
Ek en lankstaan is nie maats nie. Dog ek sê maar net …

