Local newsNewsNews

Ek sê maar net …

Rubriek. - Soms moet mens maar net bietjie die fokus wegskuif van al die sleg en lekker lag saam met 'n kind.

Klaagliedere. Al wat mens deesdae hoor en sien. Dis die slaggate. Die swak dienslewering. Die dorp is so vuil.

Die mense ry vreeslik en die verkeerslig op die hoek van die R42 en Frikkie Meyer-boulevard werk (nog steeds/al weer) nie.

Dit is genoeg om enige een in ‘n staat van polse kou te sit – soos ons altyd op universiteit kwytgeraak het.

Ek was nog nooit een wat ewigdurende positiwiteit gepreek het nie. Loop ook nie met ‘n arsenaal Bybelversies om as antwoord op elke seer te plak nie.

Maar, party dae is dit nodig om net verby al die somber, vuil, kwaad en deurmekaar te kyk en die mooi te soek.

Onlangs het een van my dae op ‘n skewe noot begin. Vroegoggend moes ek my Yankee Mitch (dis nou my Ford vir die oningeligtes) van reg voor die motorhuis na links onder die afdak trek.

Ma se motor staan in die motorhuis en sy wou ry. Die spasie is beperk so tussen die buitekamermuur en die huismuur.

Gewoonlik gaan dit maklik, maar die betrokke oggend het ek die motor se neus te skerp na links gedraai en met die reguit-maak-slag toe vang die voorkant die groen paal.

Daar sit die groen verf. Kon die meeste afkry, maar nie alles nie. Daar is ‘n ander krapmerk ook op die arme Yankee van my waar ek en ‘n kruiwa slaags geraak het en die stampplek agter, maar dis goed waaroor ek nie praat nie.

Allegeval, met die verkeerde indraai en alles is Mich toe ingewurm tussen daardie twee mure, dit lyk asof dit om hom gebou is.

Ma is weg met Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi vir hul afspraak by die hondesalon en ek is laat vir ‘n onderhoud.

Ek voel soos ‘n sardientjie in ‘n blikkie. By gebrek aan tyd om paniekerig te raak, sit ek die musiek aan en met Elvis in my ore vat dit my amper ‘n kwartier om die motor daaruit te wikkel.

Deur die loop van die dag het ek ook deur twee slaggate gery wat gelukkig nie enige skade aangerig het.

Die hele dag wou-wou onderstebo draai. Dit het nie. Die mooi tussen die deurmekaar het begin toe ek ‘n telefoniese onderhoud gehad het met ‘n vrou wat ten spyte van ernstige siekte alles met ‘n glimlag in geloof aanvat.

Later moes ek Sasolburg toe en dit was lekker om die Vaalrivier so stukkie-stukkie deur die brugreling te sien.

Tog te mooi die vol rivier wat so silwerblink in die son. Ons laerskoollied het hoeka destyds begin met: “Langs Vaalrivier se silwer stroom met wilgerbome groen omsoom…”

Dan was daar die pienk en wit kosmosse wat sommer hoog in die Vrystaat staan. Mooi, baie mooi. Die kersie op die koek was ‘n onderhoud met ‘n lewenslustige 9-jarige wat lekker vir die joernalis-tannie se grappies gelag het.

Hoe meer hy gelag het, hoe meer streke het ek uitgehaal. Ek het A.G. Visser aangehaal, gesigte getrek en allerhande stories uitgedink totdat ons albei geskater het.

Dit was so maklik soos dit. Klein dingetjies. Lekker lag. Dit maak ‘n verskil. Verskuif die fokus, al is dit net vir ‘n rukkie.

Soms is dit nodig. Ek sê maar net.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button