Keagan glimlag al breed, al wag nóg ‘n operasie
“Hy ‘n baie gelukkige, gesonde seuntjie vol glimlaggies,” sê sy ma.
MEYERTON. – Twee maande nadat klein Keagan Havenga (18 maande) se ringvingertjie geamputeer moes word, is die verbande nou af en kan hy weer soos enige energieke seuntjie in sy badwater plas.
Keagan is op 10 Oktober 2020 gebore met albei handjies se middel- en ringvingers wat aan mekaar vas was. ‘n Operasie is op 17 Januarie vanjaar in die Wilgers-Hospitaal in Pretoria uitgevoer om die vingers van mekaar te skei. Die vingers aan sy regterhandjie het na die operasie mooi herstel, maar die linkerhandjie s’n wou nie genees nie omdat daar nie genoeg bloedvloei na sy ringvinger was nie. Die vingertjie het swart geword en Keagan moes teen Maandag, 14 Februarie, ‘n dringende opvolgoperasie ondergaan om dit te amputeer.
Keagan se ouers het nie ‘n mediese fonds nie maar kon vir sy eerste operasie by ‘n private hospitaal betaal met hul eie spaargeld en danksy skenkings van goedhartige individue en sakeondernemings soos die Gas Monkey Boksburg Foundation.
Vaalweekbladlesers het fluks bygedra en sowat R4 000 vir die tweede operasie ingesamel, en ‘n plaaslike prokureur, mnr. Charl Kruger, het die uitstaande bedrag van R35 000 geskenk sodat die operasie kon voortgaan.
“Ons het na die amputasie elke Woensdag dokter toe gegaan vir opvolgondersoeke, maar moet nou eers weer op 12 Junie teruggaan vir x-strale,” sê sy ma, Megan van Meyerton. Die amputasie was ‘n sukses, maar ongelukkig sal nóg ‘n operasie uitgevoer moet word om Keagan se middelvinger, wat in die herstelproses skeefgetrek het, reguit te maak. Dit is nog nie bekend wanneer dié operasie gaan plaasvind nie.
Intussen gaan dit ondanks die amputasie goed met klein Keagan. “Hy ‘n baie gelukkige, gesonde seuntjie vol glimlaggies,” sê Megan.



WAARSKUWING – Die foto onder is baie grafies en kan senstiewe lesers ontstel. Moenie verder afrol as jy vir wonde gril nie – – Na die eerste operasie om sy vingertjies te skei, het die ringvingertjie swart geword en moes geamputeer word. Só het dit voor die tweede operasie gelyk.

****************************************************

