Jurgens Swartz – drama is sy passie
Jurgens droom groot en leef sy passie uit, al is hy net 9 en in graad 4.
SASOLBURG. – Jurgens Swartz is nege jaar oud en in graad 4. Curroskool Vanderbijlpark vertel hy my.
Nie dat hy baie lief is vir skool nie, maar hy hou van wiskunde. Eendag as hy groot is wil hy ‘n professor word in wiskunde, natuurwetenskappe en drama. Drama is sy groot passie.
“Niemand rig my af nie,” sê hy, “ek doen sommer alles self.” Die kleinman is goed.
Verlede jaar het hy veel ouer kinders uitgestof met sy monoloog – Want my ma hou van rugby – by die Oosrand Kunstefees.
Onlangs het sy naam vierde verskyn op Curro se landswye Top 10 akteurs in hul kategorie: The Young Stars (Grade 4-7) na hul National Youth Theatre Festival 2022.
Hierdie jaar oefen hy ‘n monoloog, die Voëlverskrikker en dan is daar nog ‘n voorlesing ook.

“Dit het alles begin toe ek 6 was en ‘n gedig moes opsê. Eers voor die hele skool en toe by ‘n kunstefees,” onthou hy.
Sy ma, Letitia Swartz sê Jurgens oefen in die motorhuis. Die hele vloer is al vol plakkers om vir hom aan te dui waar hy moet staan en wanneer.
“Hy is my vasbyter. Hy het een keer so baie sy monoloog opgesê, hy het stem verloor.”
Jurgens stem saam, hy oefen hard, maar hy hou daarvan. Een van sy gunsteling aktrises is Maggie Smith wat Professor Minerva McGonagall in die Harry Potter films vertolk het.
Behalwe die films het hy die eerste Harry Potter boek onder oë gehad en die gesin se jongste Golden Retriever is vernoem na nog ‘n karakter uit die reeks, Neville Longbottom.
“Ek noem hom net Neville. Ek weet nie meer of ek so baie van hom hou nie,” sug hy, “hy’t vanoggend aan my skoolklere geëet.”
“Ons het drie honde en twee katte. Die huiskat, Spikkels en die Bengaalse kat, Chrisjan, maar ek noem hom sommer net Croissant-té,” vertel hy en lag lekker oor ek reken daar is nie so ‘n woord in die woordeboek nie.
Tyd vir sport het hy nou nie eintlik nie. Speel wel hokkie, maar eintlik wil hy eendag yshokkie speel. Dit sou natuurlik gehelp het as hier nog ‘n ysskaatsbaan was …
Sy gunsteling dier is ‘n sloth. “Dis ‘n luidier in Afrikaans. Hy beweeg baie stadig. Kan hom tot twee dae vat om ‘n boom te klim,” deel hy sy kennis.
Jurgens lag maklik en lekker. Sy oë gesels saam en skitter van lewenslus. “Ek glo nie meer in Kersvader nie, miskien ‘n bietjie nog in die tandmuis en beslis in die Paashaas,” besluit hy.
Sy gunsteling liedjie is 10 000 Reasons van Matt Redman. “Dis ‘n Jesus-liedjie,” vertel hy ernstig.
Eendag wil hy nog monoloë doen wat mense laat huil ook, maar vir eers laat hy hulle lag, want hy kan en hy geniet dit.

