Local newsNewsNews

Ek sê maar net …

Rubriek. - Om in Vanderbijlpark te bly is 'n uitdaging, 'n duur ene. Vat nou maar die week vanaf Goeie Vrydag ...

Langnaweek. Goeie Vrydag. Alles was rustig, toe flikker die ligte. Volgende sekonde is die kombuislig af en die radio doodstil.

Ek sit nog met ‘n lepel vol ontbytkos halfpad op pad mond toe. “Sit af die geiser,” kom Ma eerste tot verhaal.

Ek spring op. Oomblikke later hoor ek die slag en toe weet ek … ons is weer in vir ‘n ding. Iets het by die Town Sub ontplof. Dit brand. Alweer!

Die gevoel wat oor jou toesak as jy weet, hier is dit weer, kan nie omskryf word nie.

Daar kolk te veel emosies op een slag. Van verslaentheid tot witwarm woede. En jy weet nie een gaan help nie.

Dag 1 het jy nog hoop. Die vrieskas word toegehou, die melk, kaas en water in die yskas is nog koud. Selfone vol. Batterypakke gelaai.

Dan begin die video’s deurkom, saam met die gerugte. Altyd gerugte. Feit of fiksie maak nie saak nie, want daar is nie krag nie.

Teen Dag 2 besef jy die stasie gaan nie oor dié langnaweek weer krag verskaf nie.

Die hoop beskaam nie. Die gemoed hou nog. Daar is jou wrintiewaar nog warmrige water vir stort.

Ek grawe die vleis uit die vrieskas uit om by vriende te gaan koud hou. Skraap alles wat lyk of dit gelaai moet word en sit af na ‘n vriendin se huis.

‘n Vriend braai onder sy afdak in die reën en stuur kos huis toe.

Vrolik ten spyte van die nat weer. En dit was aand en dit was môre. Die derde dag het aangebreek.

Die stilte, veral in die aande, begin mens vang. Geen TV. Geen radio. Selfoon se data raak min, want ons is gewoond aan die WiFi.

Stadig maar seker begin irritasievlakke styg. Buite is daar nie baie kragopwekkers aan nie. Petrol en diesel is te duur.

Die stories begin loop van mense wat kos moes weggooi. Dit in dié sware ekonomiese tye.

Dag 4. Langnaweek begin einde se kant toe staan. Batterypakke loop vinniger af as wat dit gelaai kan word.

Ek skryf artikels op ‘n geleende skootrekenaar. My Yankee Mitch sluk meer petrol want skielik is dit ekstra kruis en dwars geryery net om alles aan die gang te hou.

Mense is kwaad. Brand bande. Toyi-toyi. Gooi klippe. Dit help alles niks. Maak dinge net moeiliker.

Paniek begin stadig inskop, wat van my werk? Spertyd. Die koerant. Op ‘n kollega se rekenaar kry ek darem die nodige gedoen.

Terugvoer van die munisipaliteit is min. Die moedeloosheid wil-wil nesskop.

Weer die boodskap, kom kry vir julle kos. Die verligting van iemand wat weet en verstaan. Dankbaar.

Batterye vir die radio. Ons kan weer musiek luister.

Dan begin die dae ineen vloei. Die roetine van water kook op die gasstoof vir voortrekkerbad, vir skottelgoed was.

Die heen en weer om naglig en batterye te laai. Die elke oggend se opstaan met die hoop dalk vandag.

Die stukkie moedverloor as die dag lang skadu’s begin gooi en jy maar weer die kerse nadertrek … the show must go on.

Ns. Hierdie rubriek is geskryf na ‘n week sonder krag. Ek hoop met my hele hart dat teen die tyd wat hierdie gelees word, daar weer lig en warm water met ons sal wees. Sela.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button