Harteloos! Diewe plunder Vereeniging-DBV
Die diewe het meer as net items gesteel, hulle het die diere in die sorg van die DBV se winterwarmte gesteel!
VEREENIGING – Diewe het Vrydagnag by die Diere Beskermings Vereniging toegeslaan en verskeie items gesteel, waaronder hul wasmasjien, komberse, hondebeddens, wasgoedmandjies en groot plastiekhouers.
In die proses is die betonmuur by hul plaaswerf-area gebreek om toegang tot die perseel te kry. Dit sal ook vervang moet word.
Hierdie items wat gesteel is word gebruik om die diere in hul sorg warm te hou, en die beddegoed weekliks te was.
Dit is ‘n groot terugslag vir die DBV, aangesien die wasmasjien minder as drie maande gelede aan die DBV geskenk is.
“Ons is platgeslaan. Dit is winter, die diere in ons sorg moet warm gehou word en nou het hulle juis die items gesteel wat die DBV help om die diere wat aan ons toevertrou is, te versorg,” sê Marlien de Klerk, bestuurder van die plaaslike DBV.
Dit is inderdaad hartverskeurend om te dink dat enigiemand van ‘n liefdadigheidsorganisasie sal steel. Dit terwyl die DBV reeds onder finansiële druk moet funksioneer.
Daar wrod dus om die rede ‘n beroep op die plaaslike gemeenskap gedoen om die DBV in die tyd van nood te ondersteun.

Die DBV het dringend die volgende items nodig:
• Komberse
• Hondebeddens
• Wasgoedmandjies
• Groot plastiekhouers
• ‘n Wasmasjien
Elke item wat gesteel is, het ‘n direkte impak op die gemak en welstand van die diere in hul sorg. Indien jy met enige van die bogenoemde items kan help, sal dit opreg waardeer word as dit by die Vereeniging & Vanderbijlpark DBV in Generaal Smutslaan 58, Duncanville, Vereeniging, afgelaai kan word.
Alternatiewelik kan finansiële bydraes inbetaal word.
Bankbesonderhede:
Rekeningnaam: Vereeniging SPCA
Rekeningtipe: ABSA Spaarrekening
Rekeningnommer: 9258578888
Tak: Vereeniging
Takkode: 632005
Verwysing: Theft & Jou naam

