Groot eet en baie pret by Deneysville fees
Hier is iets om na uit te sien. Toneomkrullekker basaar in Deneysville, Vrystaatkant van die Vaaldam.
DENEYSVILLE. – Saterdag, 7 Mei 2022 is die ideale tyd om bietjie weg te breek Vaaldam se kant toe. Nie net vir lyn natmaak of om na die vol dam te kyk nie, maar ook om bietjie die lewe te vier.

Wat is nou lekkerder as ‘n regte-egte boere basaar?
Die NG Kerk Deneysville hou weer fees, daar sal alles wees van ‘n boereorkes vir so bietjie langarm skoffel tot by speletjies wat die kinders gaan besig hou.
‘n Plaaslike sanger, Armand du Preez, gaan ook so tussendeur die gehoor bekoor.
Bring maar ekstra geld vir die mini-veiling om 12:00 en as jy nog nie vir ma of ouma ‘n Moedersdaggeskenk gekoop het nie, dan is die handwerktafel die een plek om te gaan draai.

Kom honger, baie honger! Liplekker jaffels, vetkoek, kerrie en rys, worsbroodjies, sosaties en spitbraai gaan enige koue- en hongerkolle verdryf, maar hou maar ‘n plekkie oop vir nagereg, boeretroos koffie, tee en koeldrank.
Daar sal ook plaasvars vleis, lekkergoed, koek en ander gebak verkoop word.
Kom kuier sommer heeldag saam!
Die GPS koördinate is: -26.89097299684788, 28.097052717038192.

