‘n Spesiale Moedersdagvertoning deur Helena Hettema
Eenmalige Moedersdagvertoning deur Helena Hettema in Vanderbijlpark op 7 Mei 2022.
VANDERBIJLPARK. – Helena Hettema, gevierde kabaretkunstenaar, liedjieskrywer en aktrise bied op 7 Mei ‘n kabaret met Franse legendes en ‘n lied vir ma by die Baptiste Kerk, 1 Gillchriststraat in Vanderbijlpark aan.

Hierdie spesiale Moedersdagvertoning begin om 17:00 en is die ideale manier om jou ma, ouma, suster of geliefde te bederf.
Helena bekoor gehore al wêreldwyd vir dekades. In 1989 was sy deel van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek saam met Lukas Maree, Anton Goosen en Karlien van Niekerk.
Een van die Kommissie se grootste treffers, Klein Kalbassies, word steeds gereeld oor plaaslike radiostasies gehoor.
Helena het destyds veral bekendheid verwerf vir die temalied van die Sonkring TV-reeks.
Daarna het sy net van krag tot krag gegaan en vandag sing sy in vele tale van Engels en Afrikaans, tot by Frans, Italiaans, Vlaams en Nederlands.
“By hierdie Moedersdag geleentheid gaan ek drie liedjies spesiaal vir moeders sing,” het sy gesê. Die liedjies is Antjie Krog se bekende Mama, Karel Prinsloo se Vir 40 jaar en Charles Aznavour se roerende La Mamma in Nederlands, oorspronklik deur Corry Brocken bekendgemaak.
Sy gaan ook gewilde chansons van die Franse legendes soos Edith Piaf, Jacques Brel, Mireille Matthieu en Charles Aznavour vertolk wat sy gaan afwissel met tydlose treffers uit haar nuwe vertoning, Divine – a tribute to the great divas en blyspele soos Evita, Fiddler on the roof en Les Miserables.
Natuurlik gaan sy die gehoor bederf met haar eie liedjies asook die van Suid-Afrika se meesterkunstenaars soos Anton Goosen, Christa Steyn en Koos Du Plessis.
Kom geniet die musiek en bederf die vrou in jou lewe met ‘n onvergeetlike Moedersdagoptrede!
Kaartjies: R150. Besprekings: Alta Pretorius – 083 463 3584. Meer inligting by www.helenahettema.com.
