Local newsNewsNews

Spesiale projek smee vriendskapsbande

Wat as 'n gedagte begin het, het in 'n volskaalse projek ontaard om 'n spesiale dag vir bejaardes te reël.

SASOLBURG. – ‘n Paar maande gelede het Magda Steenkamp ‘n paar ouetehuise besoek met die oog om plek te kry vir ‘n familielid.

By Ons Gryse Jeug in Sasolburg was sy aangegryp deur die veertig inwoners en die feit dat so baie van hulle geen besoek van familie ontvang nie.

Magda Steenkamp en Elize van Emmenis is nou beste vriende nadat hul saam op die spesiale projek gewerk het Foto: Gerda Bruinette

“Ek het net gevoel ek moes iets doen,” onthou sy. Haar eerste stap was om ‘n boodskap op Vaalweekblad se Facebookgroep te plaas waar sy gevra het of daar mense is wat sal help om vir elke inwoner ten ‘n paar slaapsokkies te skenk.

Die reaksie was oorweldigend. Van heinde en ver het mense hul hulp aangebied. Natuurlik was daar die negatiewes ook, maar sy het haar nie deur hulle laat onderkry nie.

By die eerste vergadering wat belê is om die projek aan die gang te kry, het Magda kennis gemaak met Elize van Emmenis. Die twee het dadelik gekliek en vandag is hul beste vriende.

Magda by een van die inwoners wat haar nuwe teddiebeer styf vasgehou het. Foto: verskaf

“Elize dink prakties en weet hoe om te organiseer,” vertel Magda.

“Ek moet,” vertel Elize, “anders sal Magda haar laaste geld vat om die onmoontlike te probeer doen.”

Die twee is baie dankbaar vir al die hulp wat hul gekry het. “Baie mense het gesê hulle sal help, maar uiteindelik was daar 27 wat regtig uit hul pad gegaan het,” vertel Elize

Daar is kouse, serpe, musse, kniekomberse, teddiebere en tjalies ingesamel. “Mense het so ver as Pietermaritzburg, Evander en selfs Australië vir ons goed aangestuur.”

Na al die organisering, pakkies opmaak, geskenke toedraai en dinge agter mekaar kry was hul reg om op Saterdag, 23 April 2022 die tehuis te besoek. Sanger, Anton Swanepoel, het selfs die inwoners verniet vermaak.

Elize sê die oggend was onbeskryflik. “Daar was ‘n tannie wat net nie kon glo die pakkies is vir haar nie. Elkeen het onder andere ‘n vol badsakkie ,’n kniekombers, slaapsokkies en ‘n handdoek gekry met hul naam en van op en baie van hulle was aangedaan.”

“Ons het gehelp uitdeel en saam gekuier, en daar was tye wat ons sommer saamgehuil het ook,” onthou die twee dames.

Die projek was ‘n groot sukses en hulle is dankbaar vir elkeen se bydrae. “Ons het ook baie vriende gemaak,” vertel Magda.

Gaan hulle dit weer doen? Albei knik bevestigend. Oor die hoe, die waar en wanneer het hulle nog nie besluit nie, maar hulle gaan beslis weer êrens mense se dag opvrolik.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button