Ek sê maar net …
Rubriek. - Oor duur vlagpale en landsvlae, die mislikepaliteit wat nie hul werk doen nie en vervloë dae toe 31 Mei nog 'n vakansiedag was.
Kry ek laasnaweek foto’s van vriend Gert oor hul selfie en TikTok hokkies (booths) wat hulle spesiaal vir tieners het. Klitsgras, dis nogal oulik gedoen.
Ek reken die jongklomp sal weet wat om daar binne te doen. Self verstaan ek nou nie veel van TikTok nie. Ek het bakkiesblad darem soort van onder die knie.
Die res van sosiale media verander te vinnig vir my. Ek het grootgeword in die dae van telefoonhokkies op straathoeke saam met groot rooi posbusse.
Telefone was iets wat teen die gangmuur vas was of op ‘n kassie in die kamer of voorportaal gestaan het.
Nou kan ons nie meer oorleef sonder die sakpas elektroniese gedoentes wat met WiFi werk en jou 24/7 in aanraking met alles en almal hou nie. Vreemde tye.
Amper so vreemd soos die land se regering wat R50 miljoen wil skenk om armes in Kuba te help, terwyl duisende Suid-Afrikaners nie kos, werk, elektrisiteit of water het nie.
Nog vreemder die R22 miljoen wat hul wil uitgee op ‘n 100m hoë lamppaal met ‘n tamaaie landsvlag. Hoekom?
Ons weet mos almal hoe lyk die vlag en na al die jare weet ons selfs om te onthou dat die rooi kant bo moet kom.
Dit kan my mos so pla as iemand die landsvlag onderstebo het. Jare terug het ek eenkeer by ‘n polisiestasie ingewals en daarop aangedring dat die vlag buite dadelik reg gedraai word.
Ook eenkeer ‘n universiteit se satellietkantoor in Pretoria gebel en gekla oor die onderstebo vlag wat ek uit my kantoor kon waarneem.
As mens ‘n ding wil doen, dan doen jy dit reg of jy los dit. Party dae as ek so na onse Vaaldriehoek kyk, dan kry ek die indruk die mislikepaliteit het nou op die punt gekom waar hulle net los.
Laat die diewe nou maar die slote grawe en die kabels steel. Laat die privaatsektor nou maar die gras sny en die vuilgoed optel. Doen dit. Los dit. Hulle gee nie om nie. Kry mos salaris.
Dis om van kwaad te word. Of hartseer eintlik.
Ek onthou ‘n tyd wat Vanderbijlpark ‘n baie mooi en skoon dorp was. Veilig ook.
Die blomme het geil gestaan by die hospitaal, die landdroshof, die munisipale kantore.
Dit was veilig om deur die veldjies dorp toe te loop. Ja, die regte dorp, lank voor die mall gebou is.
Kinders het met fietse skool toe gery. Skole het padpatrollies gehad en kwaai ooms en tannies in uniform het toegesien dat skoliere veilig oor kruisings naby skole kom.
Dit alles is ook nou iets van die verlede.
Saam met Republiekdag. Dis mos 31 Mei. ‘n Paar jaar gelede was ek vir ‘n oomblik sprakeloos geskok toe jong kollegas van my op daardie stadium nie geweet het waarvan ek praat toe ek sê hoe ‘n belangrike dag 31 Mei was nie.
Hulle het nie geweet van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 nie. Ook nie van Uniewording op 31 Mei 1910 nie en niks van Republiekwording op 31 Mei 1961 nie.
In my kinderdae was 31 Mei altyd ‘n vakansiedag. Die dag voor die vakansiedag het ons ou Voortrekkerprente in die skoolsaal gekyk.
Landsvlag gehys. Vlaglied gesing. Dis alles ‘n vorige eeu se dinge.
Geskiedenis wat nie met ‘n R22 miljoen-vlagpaal en vlag uitgewis kan word nie. Sela.

