Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Die dag toe die donkie my bekruip het ...

As joernalis by Vaalweekblad ontmoet ek baie interessante, kreatiewe en talentvolle mense. Ek geniet elke onderhoud.

Die lekkerste is egter as ek die mense se diere ook kan ontmoet. Daar is maar altyd een wat my hart steel.

Onlangs het ek by Yvette se rusplaas vir afgetrede diere ‘n draai gaan maak.

Kon die perde net so van ver af beskou. Die ses was almal rustig aan die wei in hul kamp. Kom eers in die aande terug stal toe vir warm slaap.

Die skape het hul hoegenaamd nie aan my gesteur nie en die bokke het my net so ‘n hoogdrawende kyk gegee.

Natuurlik kon ek die donkies nie weerstaan nie, en is ek en Yvette by die kamp in sodat ek haar by een kon afneem.

‘n Mens moet versigtig daarin want die heining en hek is geëlektrifiseer, so jy moet mooi weet waar om te vat.

Die grootste gevaar is eintlik binne. Twee van die drie donkies is rustige ou siele. Die een het dadelik nader gestaan om tog te mooi vir die kamera te glimlag, maar dan is daar Fiona.

‘n Grys parmant wat blykbaar die neiging het om sommer te hap as sy dink jy lyk na ‘n iets om te eet.

Ek het baie vinnig probeer foto neem, maar Fiona het my steeds van agter bekruip.

Met die omdraaislag het ek besef die donkie weet niks van sosiale afstand nie. Ampertjies of sy staan op my tone.

Ek het maar kamera omhoog gehou en om haar probeer loop, maar daarvoor was sy ook nie te vinde nie.

Wou my summier wegkeer van die hek af, of dit was om te kuier of aan my knaag het ek nie uitgevind nie. Net gelag en bene gerek by die hek uit.

Die honde op die rustige diereparadys is die vriendelikheid vanself. Elkeen het op sy of haar eie manier kom kennis maak.

Oupa, met sy wit en bruin kolle, het teen my opgespring om seker te maak ek neem mooi foto’s en die grote Jasmine was baie beïndruk omdat ek gesê het sy is ‘n ou klein babatjie.

‘n Week of wat later het ek by die honde hotel gaan draai in Meyerton. Nie vir die gaste nie, maar vir die vier-potige personeel.

Annie, die Duitse herdershondkruising het my stertswaaiend verwelkom en styf teen my kom lê om gekrap te word. ‘n Regte hartedief.

Die butler, Morris, het net elke nou en dan op die bank kom spring en sy poot op my hand gesit en na my notas geloer, kompleet asof hy wou seker maak ek kry nou die storie mooi agtermekaar.

Dan was daar die twee wollerige wit maltese wat ek by nog ‘n onderhoud raakgeloop het. Die een was meer as tevrede om my skoene te beruik en sy eie gang te gaan.

Die ander een het haar dadelik op my skoot tuisgemaak en soene uitgedeel. Ek het nog nêrens ‘n hond raakgeloop waarvan ek nie gehou het nie. Almal dierbaar. Elkeen met ‘n eie persoonlikheid.

En sulke goeie maniere! Kan nie dieselfde van ons drie brats sê nie. Die drie gaan mos so aan’t blaffe as hier mense kom kuier.

Hulle hou ook nie op nie, hou net aan en aan totdat die kuiergaste naderhand hoofpynpille drink.

Skaam vir my elke keer, maar hulle is baie in hul skik dat hul so kan saamgesels.

So het elkeen maar sy geite, maar dis lekker om so van huis tot huis te kuier en ook die honde, katte en donkies se stories te hore te kom.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button