Ek sê maar net …
RUBRIEK. - Opgedra aan almal wie se pa’s nie meer daar is nie ...
Vadersdag het my hierdie jaar vir ‘n ses geslaan. Onverhoeds. Was die eerste keer wat ek nie ‘n pa gehad het om voor gelukkige Vadersdag toe te wens nie.
Pa is mos verlede jaar deur die nare Covid weggevat. Dink ek aan al die krom en skewe kaartjies wat ek kleintyd gemaak het.
Die geskenkies waaroor hy opgewonde moes raak, of hy dit nou kon gebruik al dan nie.
Al die jare was dit so vanselfsprekend. Vadersdag. Daar was die tye weg van die huis af wat ek onthou het om te skakel.
Die kere by die huis wat ek darem vir hom kon koffie maak, al was daar nie geld vir geskenke nie. Hierdie Vadersdag het ek alleen koffie gedrink, en Facebook probeer vermy.
Ek wou dit eers ignoreer, maar ek het mos vier metgeselle wat my nooit verlaat nie.
Maak nie saak waar ek is of wat ek doen nie, Verbeelding, Dagdroom, Skrywersblok en Sperdatum gaan saam.
Soms kan ek vir ure sit en kyk hoe die vier mannetjies wegkruipertjie op my deurmekaar tafel speel.
Maar ai, twee van hulle is bietjie humeurig. Skrywersblok blaas homself party dae soos ‘n brulpadda op en gaan sit dikbek op my sleutelbord.
Dit is al wat Sperdatum nodig het om in ‘n totale monster te ontaard. Hy verander voor my oë in ‘n groot gedrog met ‘n vlymskerp swaard in die hand. Dis dan wanneer ek soos Alice in Wonderland voel, met skrywersblok wat vermakerig skree: “Kap haar kop af! Kap haar kop af.”
Dagdroom vlug onder die tafel in en Verbeelding gaan staan in die hoek en huil. Vreeslik om die vier dan weer tot bedaring te bring.
Dis presies wat Sondag gebeur het. Daar sit Skrywersblok met sy dik agterstewe op my lessenaar en Sperdatum staan en dreig. Toe gee ek maar op en skryf oor my Pa.
Ek besef dat baie mense so op Vadersdag en Moedersdag die einste verlange ervaar. Daardie wete dat pa of ma nie meer daar is om geluk te wens nie.
Ek is nog bevoorreg om my ma by my te hê. Bevoorreg en dankbaar.
Maar, ek mis my pa. Baie. Mis sy stem. Mis die wete dat hy daar is. Mis die tye wat ons saam gehad het.
Dis Pa wat my van rugby geleer het. In die dae toe Gerrie Germishuys nog vir Transvaal uitgedraf het. Pa wat my leer visvang het.
Pa wat daar was toe ek soos ‘n wafferse skrumskakel bo-oor my fiets se handvatsels in die agterplaas geduik het en my elmboog se velle afgeval het.
Saam met Pa het ek pannekoek gebak. Rugby gekyk. Visgevang. Ellispark toe. Vaaldam toe. Daantjie se gat toe. Toe word ek groot. Ek het nog rugby gekyk, maar nie meer visgevang nie.
Maar Pa was steeds daar. Universiteit toe. Pa het my naweke kom haal. Sy ou geel bakkie kon later self die pad tussen Potch en Vanderbijl draf. Pa wat gelag het oor al die universiteitskaskenades.
In my Pretoria dae was Pa die een wat laatnag nog ‘n veiligheidshek aan ‘n woonsteldeur in Sunnyside gesit het, om seker te maak ek is darem veilig in die bose stad.
Later toe ek getroud was, het hy kom huis-sit as dit geverf moes word. Ons babahond kom oppas totdat sy gewoond was aan die groot honde.
Was vir Pa wat ek gaan haal het toe ek moedeloos moeg besef Nico is ernstig siek in die hospitaal. In die nag, want Pa se bakkie was stukkend.
Pa was daar toe die masjiene afgesit is. Pa het gebly toe ek uitvlug na buite.
Pa. Nou is pa se stem stil, maar die onthou bly. Dankie Pa.
Opgedra aan almal wie se pa’s nie meer daar is nie …
