Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Ek sukkel alweer met hekke, die keer sommer gewone erfhekke wat nie samewerking wou gee nie.

Nou die dag gaan maak ek ‘n draai by vriende van my. Daar is toe ‘n kragonderbreking.

Nee, dit was nie beurtkrag nie, in Vanderbijl is daar mos maar so tydig en ontydig kragonderbrekings.

Allegeval, hulle het twee motorhekke. Werk gewoonlik baie lekker, druk ‘n knoppie en hek skuif oop.

Die betrokke dag wil hek weens die tekort aan elektrisiteit nie oopskuif nie. “Wag, ons maak die groter hek oop,” beduie sy en gaan buk by die hek. Klap oop. “Ek draai oop en dan trek jy,” sê sy.

Albei van ons het half dieselfde probleem, nie altyd seker watter kant draai mens ‘n ding oop en watter kant toe vas nie.

Ek is ook van nature verstrooid en het die neiging om ‘n deur of hek te stoot as ek moet trek en te trek as ek moet stoot.

Sy draai ‘n knop onder by die hek en ek probeer die sware hek te trek. Daar gebeur net niks. Hek roer nie ‘n aks nie. “Dan moet ek seker anderkant toe draai,” reken sy en begin die knop verwoed in ‘n ander rigting draai.

Intussen het ek uit my dagdroom ontwaak en beloer die hek se spore. Die hek gaan in hierdie lewe nie oopgetrek word nie.

Ek sal moet stoot. Sy het intussen natuurlik weer die hek vasgedraai. Ek begin lag.

Uiteindelik draai sy die knop in die regte rigting en ek stoot in die regte rigting en siedaar, ek kan die erf betree.

In die huis deel ons ons gesukkel met die groot hek met haar man. Hy beloer ons van agter sy beker sop.

“Hoekom het julle nie die kleiner hek oopgemaak nie? Daar is net ‘n hefboom wat gelig moet word,” was sy enigste kommentaar.

Asof ons nou sulke dinge moet onthou as ons belangriker dinge soos kuier en koffie op die brein het!

Laat my toe dink aan die dae wat ek nog ‘n houthuis in Graskop daar ver in Mpumalanga gehad het.

Een Maandagoggend is ek laat vir werk. Dit was in die tyd wat ek besig was om in te pak vir die groot trek terug Vanderbijlpark toe.

Die huis was van hoek tot kant onder bokse en goed wat ingepak moes word.

Storm ek op volle vaart by die huis uit en spring in my Fransman. Dié was ‘n blou motortjie wat die mense op die vakansieplaas waar ek gewerk het, my driewiel genoem het.

Ek druk die hek se knoppie, maar daar gebeur niks. Daardie jare was kragonderbrekings nog nie so ‘n algemene verskynsel nie, so ek besef êrens is daar ‘n groter probleem.

Ek bel ‘n vriend in die dorp. Sy eerste vraag: “Is die hek se elektrisiteit aan?”

Terug in die huis bespeur ek my eie handewerk. Hek se muurprop is uit.

Ek weet die hek moet sleutels hê, maar ek is laat vir werk en oral is daar net half gepakte bokse en goed wat rondstaan. Heksleutels gaan nie vinnig opgespoor word nie.

Ek skakel weer die vriend. Beduie my haas en probleem. Gelukkig is Graskop nie ‘n groot plek nie. Gelukkig is vriend ‘n groot sterk man wat heeldag met staal gewerk het.

Hy kom toe tot my redding. Kom lig die hek vir my van die spoor af. Preek oor ek nie weet waar is die sleutels nie en raas ook sommer oor die muurprop wat uit was.

Gehelp het hy darem gehelp en gelukkig het my plaasbase ook onder vriende getel en my goed geken.

Hulle het net gelag oor my verstrooidheid weer die oorhand gekry het en ek geheel laat by ontvangs aangemeld het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button