Die regte diagnose en disleksie is halfpad oorwin
Sandra Stark gesels met ons oor haar jare se navorsing en werk om gestandardiseerde toetse in Afrikaans daar te stel om disleksie te kan diagnoseer.
VEREENIGING. – Sandra Stark beywer haar vir die regte van persone met disleksie. Veral kinders.
As oogkundige het sy jare gelede reeds besef dat baie van die kinders wat hul oë laat toets het, die een of ander vorm van disleksie het.
“Mense is baie oningelig oor disleksie. Almal dink dadelik dis mense wat slegs letters soos b’s en d’s omdraai, maar dit is baie meer gekompliseerd as dit,” vertel sy.
Dit is ook vir haar baie sleg as kinders goedsmoeds gediagnoseer word met aandagafleibaarheidsversteuring (AAHV) wanneer die werklike onderliggende probleem eintlik disleksie is.
Persone met disleksie is glad nie onintelligent nie, hulle dink net anders. Sy verduidelik dat disleksiese persone in prentjies dink, en nie woorde nie.
“Hulle kan tot 10 000 prentjies per minuut visualiseer, terwyl nie-disleksiese persone ‘n gemiddeld van bykans 270 woorde per minuut kan lees.”
Sandra was gefrustreerd omdat daar nie gestandaardiseerde toetse was om disleksie by kinders en volwassenes te diagnoseer nie.
Die psigometriese toetse wat wél ingevoer is, was net in Engels beskikbaar en nie gestandaardiseer nie.
Sy het dus in 2008 begin om na-ure navorsing te doen om gestandaardiseerde toetse in Afrikaans en Engels daar te stel.
Daarvoor het sy leiding gekry by onder andere prof. John Griffin van die VSA en prof. Landman, afgetrede professor van UNISA.
Al haar harde werk deur die jare het vrugte afgewerp. Vandag word al die Stark Griffin Dislexia Academy se gestandaardiseerde assesserings vir alle ouderdomme ook internasionaal erken.
Sy het ook ‘n goeie verhouding met die Departement van Basiese Onderwys opgebou wat ook help om onderwysers bewus te maak van disleksie.
Na aanleiding van die diagnose kan kinders en studente aansoek doen vir hulp tydens toetse en eksamens.
Dit behels enige iets van ekstra tyd vir ‘n kind met ‘n ligter graad van disleksie tot iemand wat vir hul die vrae lees en dan hul antwoorde neerskryf.
Sandra het ook haar meestersgraad behaal en is tans besig met haar doktoraal waar sy ‘n studie van ‘n volwasse tweeling doen wat albei met dieselfde tipe en ernstigheidsgraad van disleksie, gediagnoseer is.
Sy sê sy het oor die jare al soveel hartseer stories gehoor. Manne wat al die jare hul disleksie vir hul vroue weggesteek het, besigheidsmanne wat steeds met sielswonde loop oor ‘n juffrou hul as dom uitgekryt het… Alles so onnodig.
Terapie en programme is beskikbaar wat persone met disleksie (hetsy oud of jonk) kan help.
Daar word bereken dat ongeveer een uit elke vyf kinders disleksie het.
Disleksie is ‘n oorerflike leerversteuring wat nie ‘n generasie oorslaan nie. Maar daar is hoop, kry net eers die regte diagnose.
Hoogs intelligente besigheidsmanne, entrepreneurs, kunstenaars en filmvervaardigers is of was disleksies.
Gaan Google gerus, die lys van name laat mens met verwondering vir die mense wat ten spyte van baie spot en sonder dat hul verstaan is, ‘n reuseverskil in die wêreld gemaak het.
Dit is belangrik dat meer mense bewus gemaak word van disleksie in al sy vorme. Gaan lees gerus meer by www.sgda.co.za.
Daar is selfs aanlyn kursusse beskikbaar wat onderwysers kan help om kinders met disleksie beter te hanteer en te help.
