Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. -Ek haal my hoed af vir almal wat onbaatsugtige gemeenskapsdiens verrig in die Vaaldriehoek, baie ongesiens.

Ek is trots op die mense van die Vaaldriehoek. Kyk, ons kan stry en baklei (sleutelbordkrygers ek kyk vir julle) dat dit ‘n naarheid is, maar as daar nood is of iets gebeur, dan staan ons saam.

Sien ek Sondagoggend ‘n dame vra op Vaalweekblad se Facebookgroep of daar nie iemand is wat ‘n meisie kan help met ‘n matriekafskeidrok nie.

Die mense sukkel en die meisie wil graag mooi lyk. Rokke wat op daardie stadium geskenk is het nie gepas nie.

Ek wonder nog hoe ons nou die meisie kan help, toe sien ek die storie is opgedateer. Die dame sê dankie vir almal se hulp. Die meisie is geholpe, van rok tot by ‘n fotograaf!

Tydens ‘n onderhoud met ‘n man wat ‘n opleidingsentrum het, vertel hy sommer terloops hy het begin om die skole te nader om kinders gratis noodhulp en brandbestrydingopleiding te gee. “Hulle moet darem kan weet wat om te doen as ‘n maatjie skielik seerkry,” beduie hy.

Lees hier wat Nick Rheeder nog doen. 

‘n Maatskaplike werker, reeds toegegooi onder haar daaglikse pligte, vertel hoe sy en haar man honde red.

By nog ‘n paartjie waar ek uitval vir ‘n onderhoud loop daar ganse, hoenders en poue oral rond. “Oh, hulle is almal gered,” word ek meegedeel.

Valies ken van saamstaan. Veral as daar krisis is. Ek sal nooit vergeet hoe die beraders op die eerste herdenking van die Driehoek-brugramp my vertel het hoe hul net alles gelos en skool toe gestorm het nie.

Hoe, toe hul opkyk, daar skielik ‘n stroom mense die kantoor ingekom het, predikante, pastore, sielkundiges. Weg was al hul verskille en onderlinge redenasies. Almal wou net help.

‘Weet jou ma jy is okay?’ – beraders onthou

Dieselfde het met die grendelstaat gebeur tydens Covid. Ek kom nou eers agter die helfte is ons nooit vertel nie.

Die hoeveelheid mense wat agter die skerms kos versamel, pakkies gemaak en versprei het, is net ongelooflik.

Nie twee keer gedink aan hul eie gemak nie, net besef daar is nood en iets moet gedoen word.

So tussen al my onderhoude en mense wat ek ontmoet, kom ek ook agter dat die mense wat die grootste verskil maak, die mense is wat die meeste wegskram van publisiteit. Hulle het geen idee watter groot impak hul regtig maak nie.

Wanneer hul stories dan uiteindelik verskyn, (behalwe vir ‘n paar manne en dames wat my steeds ontduik en hulle weet wie hul is, kry ek gewoonlik wel my storie), dan seg hul dankie omdat ek die storie so goed geskryf het.

Nee, my liewe vriend en vriendin, dis julle wat sulke wonderlike, onbaatsugtige werk doen.

Dis vir julle wat ek vandag wil dankie sê. Dankie vir slaggate wat in die paaie reggemaak word en vir middelmannetjies wat gesny word.

Dankie vir elke trui, serp en mus wat gebrei en uitgedeel word, vir al die sop en brood wat ongesiens versprei word en vir al die borg van sportspanne wat andersins dit nie sou kon bekostig om deel te neem nie.

Dankie vir elke Vaaldriehoeker met ‘n omgee hart wat stil-stil ‘n reuseverskil maak. Ek wens ek kon by elkeen uitkom om elkeen se storie te kon skryf.

Hoe dit ook al sy, vir elke bekende en onbekende Samaritaan daar buite. Dankie namens almal wat by jul onbaatsugtige diens en omgee baat vind.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button