LS Eligwa ontdek die lekker van lees
Dit was 'n leersame, maar ook 'n vetpret oggend by Laerskool Eligwa toe storieboeke lewe gekry het.
VANDERBIJPARK – Baie mense het vergeet watter vreugde, en ontvlugting, boeke kan bring. Maak ʼn storieboek oop en jy is dadelik in ʼn ander wêreld. Een waar jy in kan wegraak met net die woorde op die blaaie en jou eie verbeelding aan die stuur van sake.
Vir kinders is dit belangrik om op verbeeldingsreise te gaan, om hul woordeskat uit te brei en om net te ontspan. Ongelukkig het televisie, die internet en sosiale media boeke vervang. Hoekom sal kinders lees as hul alles visueel kan sien?

Dis waar Die Boek Buddies inkom. Boek Buddies Produksie bevorder Afrikaanse lees deur boeke tot lewe te bring deur opvoerings. Waar hul ook al gaan, maak hul kinders weer lus om te lees.
Vra maar net die leerders van Laerskool Eligwa. Die Boek Buddies het hul 12 Junie besoek en die leerders het van begin tot end aan hul lippe gehang.

Daar is saamgesing, gedans en luidkeels meegedoen aan al die karakters se manewales op die verhoog.
Laerskool Eligwa het op hul Facebookblad die Boek Buddies Produksie bedank en gesê: “Ons leerders het die besoek geniet en is op ’n prettige en inspirerende manier aangemoedig om die wonderwêreld van boeke en lees te ontdek.
“Dankie aan die Boek Buddies vir julle entoesiasme, energie en liefde vir lees wat julle met ons kinders gedeel het. Ons waardeer julle besoek en die positiewe invloed wat julle op ons jong lesers het.”