Local newsNewsNews

Rita Benecke geswore Vaaldriehoeker met ‘n hart van goud

Ons kuier by die Tannie van die Spur, Rita Benecke en vind uit hoe ‘n Kapenaar in die Vaaldriehoek kom bly het.

VANDERBIJLPARK. – Sy is sakevrou, Rotariër, ‘n bekende gesig by die Sakekamer en vir vele jongelinge die een wat hul gehelp het om hul drome van Rotary uitruilstudent te wees te bewaarheid.

Rita Benecke is alombekend. Vir 42 jaar deel sy al die lief en leed van Vanderbijlpark. Eers net as eienaar van El Paso Spur in die dorp, maar met die jare saam het ander restaurante van die groep bygekom, asook akkommodasie. Steeds is dit einde niet.

Tannie Rita soos sy alombekend is op haar 77ste verjaardag in 2021.

Rita lag omdat sy bekend is as die Tannie van die Spur. “Ek het hierdie Spur in 1980 oopgemaak en sedertdien het ek die mense leer ken. Van hulle het voor my begin uitgaan, verloof geraak, later getrou en kinders grootgemaak. Van my eerste kliënte is vandag al oupas en oumas.”

Grootword- en koshuisjare

Sy is oorspronklike van Wolseley in die Wes-Kaap waar haar ma en pa ‘n kafee en restaurant gehad het.

Rita was in die Paarl op skool en het daar in die koshuis tuisgegaan. “Ek het dit vreeslik geniet,” onthou sy.

“Ek was ook altyd by die skool, behalwe die een dag, toe besluit ek vandag wil ek ook klas bank. Ek het kladpapier onder my tong gesit en bleek geword. Die koshuismoeder het gesê ek kan nie skool toe gaan nie. Die volgende dag, toe is ek regtig siek,” lag sy lekker oor die herinnering.

Sy sê as sy die slag kindersiektes gekry het, was dit altyd in die Julie skoolvakansie. Sy onthou hoe die gesin op ‘n keer van Wolseley af Klerksdorp toe gereis het om by haar tannie-hulle te gaan kuier.

Hulle het die oggend van hul vertrek besef sy het pampoentjies. Die dokter het gesê sy mag nêrens uitklim nie, behalwe as sy badkamer toe moet gaan. “Daar sit ek toe al die pad in die motor met ‘n doek om my kop gedraai.”

Rita saam met Alice de Jager en Shaun Groves van die GTCoC op pad om beanies en kombersies by die Rooi Kruis uit te deel. Foto: verskaf

Opwindende jare in Tulbach

Na skool het sy vir ‘n wyle by die groot Amerikaanse inmaak fabriek in Tulbach gewerk. Sy het ook in 1961 die eerste rekenaarkursus, Comptometery gedoen.

Sy onthou haar dae in Tulbach as lekker tye. Was ook in hierdie tyd wat sy haar eie meubelbesigheid daar oopgemaak het.

“Ai, daardie jare was daar baie wynboere vir wie ek meubels verskaf het en as dit by betaling kom, was die standaard antwoord: “die oes moet net eers in.”

Rita was in Tulbach toe die groot aardbewing in September 1969 plaasgevind het. Die skudding en die skuddings daarna het baie huise en besighede platgevee.

“Daar het ek gesien hoe ‘n gemeenskap kan saamstaan en mekaar help. Ons het by die groot fabriek gaan stort, daar was nêrens anders water nie. Mense het in hul motors gebly terwyl huise herbou is.”

Rita het in 1980 Vanderbijlpark toe gekom, want dit was die naaste beskikbare franchise aan die Kaap. Die ander een was Middelburg.

Haar man en kinders het vir eers in die Kaap agtergebly. Vandag is Rita ‘n geswore Vaaldriehoeker wat nie maklik die dorp sal verruil nie.

Sy word Oktober 78, maar van aftree is daar geen sprake nie. “Ek kan nie stilsit nie, so aftree is buite die kwessie.”

Sy reis gereeld en het so pas weer van Mexico en Texas teruggekeer waar sy onder andere die Rotary International konferensie bygewoon het.

‘n Rotariër in murg en been

Die Rotariërs lê haar na aan die hart en sy doen alles in haar vermoë om die Youth Exchange Programme elke jaar glad te laat verloop.

Dan hou sy haar ook doenig met die Rotary Klub van Vanderbijlpark se wêreldrekordpogings. Sy was ‘n aktiewe lid van die trio wat die groot kombers rekord beplan en tot uitvoer gebring het.

Naas al haar sakebedrywighede en gemeenskapsprojekte is Rita ook ma vaan twee seuns, drie stiefdogters en ses kleinkinders – elkeen het ‘n besonderse plek in haar hart.

Sy glo elkeen se paadjie is vir jou uitgelê en dat die regte ding op die regte tyd sal gebeur.

Sy duld nie nonsens nie, maar het ‘n sagte plek vir die jeug, help graag en weet hoe om te organiseer. Sy ken haar mense en haar mense ken haar – onse Rita Benecke.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button