Public Eye help om gesteelde voertuie op te spoor
In Vaalpark word daar saamgespan om misdaad te bekamp.
VAALPARK. – Kriminele het hul weer vasgeloop in Vaalpark.
Die afgelope week is daar twee gesteelde voertuie teruggevind. Op 21 Julie het Public Eye verneem dat ‘n voertuig gesteel is. Die boodskap is uitgestuur en die gemeenskap het begin soek.
Kort voor lank is nog ‘n voorval gerapporteer. ‘n Lid van die publiek is met ‘n mes gesteek by die Bloukranssentrum en die verdagtes is weg met nog ‘n voertuig.
Lede van die publiek en Public Eye patrolleerders het saamgewerk en beide voertuie is opgespoor.
Public Eye het in ‘n media verklaring hul waardering uitgespreek teenoor almal wat betrokke was, van hul eie patrolleerders tot by die plaaslike misdaadbekampingseenhede en dan natuurlik ook die publiek. “Julle is ons oë en ons krag.”
Slegs twee dae later, op 23 Julie 2022 het die Paardeberg kameratoring ‘n voertuig opgetel wat as gesteel aangemeld is.
Arrie en Ruan Coetzee van Public Eye het dadelik nog eenhede in die gebied gemobiliseer en daar is met ‘n uitgebreide soektog begin.
Daar was patrolleerders by elke uitgang in Vaalpark gestastioneer. Patrolleerders van Sasolburg het ook kom help soek.
Ongeveer 50 minute is die voertuig by die Caltex vulstasie oorkant die R59 gesien. Public Eye het die voertuig onmiddellik vasparkeer en die polisie gekontak wat oomblikke later op die toneel was.
Verdere ondersoek deur die SAPD het gevind dat die voertig ook op ‘n vorige keer opgespoor is.
Die Public Eye span het almal bedank wat gehelp het met die opsporings.

