Waterlek net so gelos
Die water stroom glo al vir drie weke lank, maar niemand kom om dit reg te maak nie.
VEREENIGING. – Inwoners van Peacehaven sê liters en liters water gaan daagliks verlore weens massiewe ‘n waterlek op die hoek van Golfstraat en Kerkstraat in Peacehaven.
Volgens Tersia Venter, ‘n gemeenskapsaktivis in Peacehaven, is die lek al op 8 Julie 2022 aangemeld, maar sedertdien het Metsi-a-Lekoa, die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se watereenheid, nog nie uitgekom om die lek te herstel nie.
“Die lek het eintlik al in Mei ontstaan, was een keer ‘gespoeg en geplak’ deur wie ookal die munisipaliteit uitgestuur het, maar dit het weer op dieselfde plek begin lek.
“Die eienaars van die huis sit met verskeie verwysingsnommers, maar daar word eenvoudig nie daadwerklik opgetree nie en die probleem duur voort.
“Dit wek die indruk dat verwysingsnommer gegee word om inwoners te laat dink dat daar iets aan die probleem gedoen gaan word.
“Peacehaven gaan binnekort ‘n goeie plek wees om as ‘n toerisme aantreklikheid te bemerk aangesien ons nou ons eie fontein het,” sê Venter.
Volgens Prudence Hlanyane, raadslid vir Wyk 15 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, is die situasie frustrerend vir inwoners.
“Daar is ‘n aktiewe verwysingsnommer wat wys dat die probleem reeds gerapporteer is, maar ten spyte daarvan kom niemand uit om dit reg te maak nie,” sê sy.
“Een van die probleme waarmee ons sit is dat Metsi-a-Lekoa tans onder administrasie is en dat Rand Water sekere van dié entiteit se funksies oorgeneem het. Dit is soms moeilik om vas te stel of Metsi-a-Lekoa of Rand Water vir die herstel van ‘n spesiefieke lek verantwoordelik is. Dikwels verwys Metsi-a-Lekoa jou na Rand Water, terwyl Rand Water jou weer na Metsi-a-Lekoa verwys,” sê sy.
By verdere navraag het Metsi-a-Lekoa glo laat weet dat die waterlek herstel is, terwyl die water duidelik nog loop.
