CSAP – By die pageant dink en doen hul anders
Dit kook by die Vaal se Central South Africa Pageant. Dis hul eerste jaar en hul gaan groot!
VAALPARK. – Die Central South African Pageant (CSAP) is aan die begin van 2022 begin met Werner en Handelien Volschenk as direkteure.
In Februarie het Werner gesê: “Hierdie is nie net nog ‘n ‘pageant’ nie. Dit gaan nie oor hoe jy lyk of hoe goed jy kan model loop nie.
“Dit gaan oor die deelnemers se persoonlikheid, of hulle daardie spesiale ‘spark’ het om goeie ambassadeurs vir hul borge te wees.”

Intussen het daar baie water in die see geloop en CSAP gaan van krag tot krag. Hulle het afgeskop met ‘n kompetisie om sewe titelhouers te kry wat as CSAP Emissaries of gesante optree.
Hierdie jaar se gesante en hul kategorieë is Thando Morabe (Mrs), Etienne Joseph (Mr), Ansie Kellerman (Miss), Alicia Olivier (Miss Teen), Taygan Botha (Mr Teen), Surie van der Merwe (Miss Pre-Teen) en Wynand Bezuidenhout (Mr Pre-Teen).
Hulle was die afgelope paar maande reeds bedrywig om CSAP by verskeie funksies te verteenwoordig waar hul as beoordelaars opgetree het en kronings gedoen het.
Die sewe gesante se grootste werk lê nog voor, aangesien hulle ook as die mentors van die semifinaliste in die groot CSAP-kompetisie dien.
Werner sê hulle het tans 101 semifinaliste in die verskillende kategorieë en in die volgende paar maande sal daar verskeie geleenthede wees waar die manne, dames en jongelinge hul talente ten toon kan stel.
Die eerste hiervan is CSAP se Vrouedagvieringe wat Saterdag, 6 Augustus by die Lord Signature Hotel in Vereeniging plaasvind. Tydens hierdie geleentheid gaan die semifinaliste kans kry om saam met hul rolmodelle op die verhoog te verskyn.
Die groot dag word opgevolg met ‘n gholfdag by die Maccauvlei gholfbaan op 19 Augustus. Hierdie is ‘n fondsinsamelingsgeleentheid waar die kontantpryse vir die Mr, Mrs en Miss SCAP kompetisie ingesamel sal word.
Op 27 Augustus vind daar ‘n Neon Night Race by die Emerald Resort & Casino plaas. Die fondse wat ingesamel word, word gedeel tussen kontantpryse vir die junior-afdelings en vir Better Vaalpark.
Almal word uitgenooi om aan hierdie pret nagwedloop van 5 km te kom deelneem. Besonderhede van al die funksies en waar om te bespreek is beskikbaar op die webtuiste www.centralsouthafricanpageant.com.
Dan is daar nog ‘n liefdadigheidsdag in die pyplyn en ‘n spesiale dag waarop al die kompetisie borge self met die semifinaliste kan gesels om te besluit wie wil hul as hul besighede se ambassadeurs hê.
Alles bereik ‘n hoogtepunt in die eerste week van Oktober. Dan trek al die semifinaliste saam vir spanbousessies, ‘n spesiale ekspo-aand saam met die borge en oefening vir die gala-aande wanneer die kronings gaan plaasvind.
Twee kroningsaande word gehou. Die eerste vir die juniors waar Miss en Mr Pre-Teen en Miss en Mr Teen CSAP gekroon sal word en die tweede een om te kyk wie die senior krone gaan dra.
Werner sê die wenners sal outomaties kwalifiseer vir groter kompetisies. “Hierdie jaar het ons net gefokus op Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, maar volgende jaar wil ons uitbrei en die ander provinsies ook insluit.”
