NewsNews

Ou kerk tot sy voormalige glorie gerestoureer

Die Nederduitsch Hervormde Kerk Vereeniging in die middestad se loodglasvensters word gerestoureer.

VEREENIGING. – Die gemeente se leraar, ds. Bouwer Serfontein, sê dit is net betyds vir die gemeente se 110de bestaansjaar wat volgende jaar (2023) gevier sal word.

Die kerk is in 1913 tot stand gebring en was die eerste Hervormde Kerk in die Vaaldriehoek.

Die kerkgebou wat die gemeente gehuisves het was aanvanklik ‘n sinkgebou, maar die sinkgebou is later gesloop om plek te maak vir ‘n baksteengebou.

Die kerkgebou wat vandag daar staan is in 1942 voltooi en vroeg in 1943 ingewy.

Wat die geskiedenis van die kerk volgens ds. Serfontein so merkwaardig maak is dat die kerkgebou gedurende die jare van die Tweede Wêreldoorlog gebou is en binne ‘n tydperk van drie jaar afbetaal is.

Hy sê die loodglasvensters van die kerk het oor die afgelope 80 jaar as gevolg van die son en suurreën erg verweer. Uiterste weerstoestande het ook veroorsaak dat die loodglasvensters met hitte uitgesit het en met koue ingekrimp het.

Die loodglasvensters het oor die afgelope 80 jaar verweer. Foto: Christiaan Cloete

By sommige plekke het die lood porieus geraak en begin verkrummel, wat ook die glas in gevaar stel. Dit is veral die westekant van die kerk wat oor die jare die ergste deurgeloop het omdat dit die meeste son kry.

Die gemeente het onlangs besluit om in te gryp en die kerkgebou se loodglasvensters venster vir venster te vervang.

Christa Last, ‘n plaaslike loodglaskunstenaar van Meyerton, is genader om die gemeente met die projek te help.

Last wat al die afgelope 23 jaar die loodglas-stokperdjie beoefen en dit die afgelope 14 jaar as ‘n voltydse beroep beoefen, het al herstelwerk by verskeie ander kerke – insluitend die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG) Frankfort en die Nederduitse Gereformeerde Kerk Lyttleton in Pretoria gedoen. Dit is ‘n skaars beroep en verg baie kennis.

Christa word bygestaan deur haar vriendin en kollega, Leoni Meyer, wat al groot projekte aangepak het (dit sluit restourasiewerk by Melrose-huis in Pretoria, sowel as Gold Reef City in).

Ds. Serfontein sê dit is ‘n groot projek wat in fases aangepak sal word en oor ‘n tydperk sal strek.

Die noodsaaklikste herstelwerk sal volgens hom eerste gedoen word en die minder belangriker werk sal later volg. Die projek word deur die kerk self befonds. Herstelwerk aan die vensters aan die westelike kant van die kerk het reeds verlede week begin. Ds. Serfontein meen die restourasieprojek is ‘n storie van hoop en vernuwing in ‘n middestad wat andersins gekenmerk word deur verval en agteruitgang.

Christa Last, ‘n loodglaskunstenaar van Meyerton, hou een van die splinternuwe loodglasvenster-panele op wat spesiaal vir die Nederduitsch Hervormde Kerk Vereeniging gemaak is. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Last is die werk ‘n tydsame proses. Daar moet eers ondersoek gedoen word, waarna ‘n verslag oor die kerk se vensters saamgestel word.

Elke venster word individueel genommer en ‘n beskrywing van elke venster word gegee. Kwotasies word uitgewerk en aan die kerk voorgelê. Aangesien dit ‘n historiese gebou is moet herstelwerk volgens voorskrifte van die erfenisstigting gedoen word.

Wanneer goedkeuring gegee is kan die werk begin.

Last sê dit is betreklik maklik om glas te kry wat dieselfde kleur as die oorspronklike glas is, maar om dieselfde tekstuur te kry is heelwat moeiliker.

Die nuwe vensters moet so na as moontlik aan die oorspronklik vensters lyk.

Dit is ook belangrik om elke individuele glasstuk te nommer sodat dit op die regte plek teruggeplaas kan word.

Die panele word uitmekaargehaal, waarna elke glasstuk in dieselfde posisie teruggeplaas word.

Dele wat gebreek is word met dieselfde of so na as moontlik aan dieselfde glas vervang. Nuwe loodstroke wat met koper versterk is word gebruik as ‘n raam waarin die panele gepak word. Dan word dit aan die oorspronklike paneel vasgesoldeer.

Hierna word dit voltooi en skoongemaak sodat dit teruggesit kan word,” vertel sy.

Tydelike vensters word ingesit terwyl die herstelwerk besig is.

Nadat die herstelwerk voltooi is (dit kan glo so lank as ses weke neem) word die tydelike vensters uitgehaal en met die nuwe vensters vervang.

Loodglasvensters word aan die westekant van die Nederduitsch Hervormde Kerk Vereeniging vervang. Dié kant van die kerk het oor die jare die ergste verweer. Foto: Christiaan Cloete
Ds. Serfontein by die Nederduitsch Hervormde Kerk Vereeniging se kenmerkende loodglasvensters. Foto: Christiaan Cloete

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button