Ek sê maar net…
RUBRIEK - Honde kan dierbaar wees, maar party sukkel mens maar om in die erf te hou. Ek het al aan beide kante van die draad gestaan.
RUBRIEK. – Op Vaalweekblad se Facebookgroep is daar die afgelope week ‘n groot geredekawel aan die gang, oor honde nogal.
Daar is maar altyd ‘n ‘n boodskap of drie van ‘n hond of kat wat verlore geraak het. Toe is daar mense wat sê dis ‘n onding. Kyk beter na jul diere dan sal hul nou nie wegraak nie.
Ander het dadelik gereageer met, nee, so maklik is dit nou nie. Party honde is soos wafferse Houdini’s, hulle kan enige plek uit.
Die hele ding het in ‘n sleutelbordoorlog in die kleine ontwikkel. Ek dink die laaste ding wat iemand wil hoor wie se hond soek is, is dat hulle beter na hul hond moes gekyk het. Regtig? Mense oordeel darem vinnig.

Jare terug in my Graskopdae het ek drie honde gehad. Nooi was my oorgroot Labrador. Goed geskool kleintyd. Sy het geweet van “sit” en “bly” en “staan”.
Ek het ook ‘n pointer-kruising gehad met die naam Pippie. Sy het self vir haar ‘n maatjie gekry, Seuntjie. Hy was ‘n Jack Russel wat net eendag by die huis opgedaag het.
Onder deur die heining gekruip en homself in die huis tuisgemaak. Pippie het op ‘n eetstaking gegaan totdat ek moed opgegee het en Seuntjie maar as deel van die huishouding aanvaar het.
Was ook nadat ek kruis en dwars in die dorp gevra het of iemand ‘n Jack Russel verloor het, maar blykbaar nie.
Niks kon hom binne hou nie. As hy wou uit, was hy uit straat toe. Op ‘n kol het ek na ‘n ander huis getrek in die dorp en Pippie en Seuntjie het gou vir hul plekke gekry waar hul onder deur die heining kon kruip.
Hulle was ook blitsig as die hek oopgemaak is. Nooi sou nie haar voet by die hek uitsit nie, maar die ander twee… gereeld weggeraak en ‘n paar uur later weer doodluiters by die huis opgedaag.
Maar ja, dit was Graskop en hulle het geweet waar is hul huis.
Nou se dae het ek en Ma die drie pekinesies. Kyk, hulle mag nie hul voete by die voordeur uitsit nie. Agter in die erf kan hul maar baljaar, insekte jag en tekere gaan soos hul wil, maar voor… aikona.
Selfs Pastoor, die papegaai, sê al “terug, terug, terug” vir die honde as ek net aan die voordeur vat.
Hulle slaap ook in die huis. Bly nie te lank alleen buite nie, want van die kinders by die woonstelle hier agter is aan die stout kant en sal sommer die honde met ‘n klip of ‘n ding gooi.
Die ding is net, jy kan soveel hekke hê en areas spesiaal vir honde hê soos jy wil, maar dit kos net een besoeker wat nie ‘n hek betyds toemaak nie, of ‘n krisis waar almal se aandag afgelei is en ‘n hond kan in die straat beland.
Ek onthou hoe my pa een keer so kwaad was vir ‘n vorige pekinese van hulle, Snoekie, wat per ongeluk by die hek uit is en straat af gehardloop het met my pa agterna.
Hy het haar gelukkig in die hande gekry. Pekinese is oulik, maar hul eie spoor terugkry huis toe sal hul nooit kan nie.
Ek raak ook soms ongeduldig met al die posts op ons Facebookblad oor verlore honde en katte, maar dan dink ek aan my eie honde en hoe ek sal voel as Kleinsus Antjie skielik moet verdwyn. Sal my hart breek.
Dus my oproep is dat ons geduld moet hê met mense wat hul diere soek, want mens kan nooit sê dit gaan nie met jou gebeur nie.

