MEYERTON. – Vir baie kleuters in Suid-Afrika is ʼn ete by die skool hul primêre ete vir die dag en ongelukkig ontwikkel baie Suid-Afrikaanse kinders gevolglik sonder ‘n geballanseerde dieet.
Die gebrek aan behoorlike voeding veroorsaak dat baie kinders sukkel om op skool te presteer, want dit is moeilik om te konsentreer as jy jonger is en jou magie grom.
Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-projek is ’n inisiatief wat ten doel het om honger magies met vleis te vul en hulle benodig jagters om hulle met die projek te help.
Die HelpJag-projek help om Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek aan te vul en te sorg dat proteïene in die vorm van wildsvleis deel uitmaak van ’n bord kos wat daagliks aan 8 000 hulpbehoewende kleuters voorsien word.
Jagters word aangemoedig om wildsvleis aan Helpende Hand te skenk. Die organisasie sorg dat die vleis verwerk word en aan plaaslike hulpbehoewende skole in Afrikaanse gemeenskappe versprei word.
Verteenwoordigers van Solidariteit Helpende Hand het op Donderdag 28 Julie 2022 Meyerton besoek om plaaslike jagters in te lig oor hoe hulle tot die projek kan bydra en ‘n verskil kan maak.
Die inligtingsessie is by die Vryheidsfront Plus se kantoor in Lochstraat gehou.
Volgens Mariëtte van de Werken, Solidarteit Helpende Hand se streeksvoorsitter in die Wes-Rand en Vaaldriehoek, kan mense op twee wyses tot die voedingsprojek bydra.
Mense wat belangstel kan deur middel van finansiële bydraes help of ‘n bok skenk.
Die vleis word deur ‘n plaaslike slaghuis verwerk (gewoonlik maalvleis en beenvleis). Die slaghuis verwerk en verpak die vleis. Dit word dan deur Help Jag aan behoeftige skole en/of instansies soos ouetehuise versrei.
Volgens Van de Werken kan ‘n Eland 83 kleuters voed, terwyl ‘n koedoe 40 kleuters, ‘n gemsbok 33 kleuters, ‘n waterbok 33 kleuters, ‘n blouwildebees 26 kleuters, ‘n blesbok 13 kleuters, ‘n rooibok 10 kleuters en ‘n springbok 6 kleuters voed.
Besoek https://helpjag.co.za vir meer inligting. 
Wildsbokke wat aan Helpende Hand geskenk word kan help om hulpbehoewende kinders te voed. Grafika: HelpJag
