Local newsNewsNews

Magda – maatskaplike werker met ‘n sagte hart

Die week kuier ons by Kinderwelsyn se Magda de Man, die een met die sagte hart en sterk geloof.

VANDERBIJLPARK. – Magda de Man is al vir jare as maatskaplike werker by Kinderwelsyn SA in Vanderbijlpark betrokke.

Vandag kan sy haar nie voorstel in ‘n ander beroep nie, maar sy onthou hoe sy in matriek gewonder het wat sy gaan word. “Ek het toe vir die eerste keer van maatskaplike werk gehoor,” vertel sy.

Jan en Magda de Man

Sy het in Klerksdorp gematrikuleer en die gemeente waar sy was het gesê hulle sal betaal as sy maatskaplike werk by die Hugenote Kollege in Wellington gaan studeer.

Oor haar vier jaar in Wellington was sy nog nooit spyt nie. “Dit het my mens gemaak,” vertel sy. “Die kollege was klein en ons het baie een tot een onderrig gekry. Dit was ‘n lewensveranderende ervaring. Ek het daar geleer hoe om eers ‘n toegeruste mens te word alvorens ek die gemeenskap kon dien.”

Magda word hierdie jaar 60 en sê sy is werklik ‘n geseënde en gesonde 60. “Ek was 25 jaar oud toe ek met rumatoïede artritis gediagnoseer is. Die dokters het gesê ek sal teen 50 in ‘n versorgingsoord wees. Ek het baie pyn gehad in my dertigerjare, maar die Here het my genees.”

Dis juis haar sterk geloof en haar man, Jan de Man, wat haar regop hou in haar emosioneel uitmergelende beroep.

“Ek het ‘n baie sagte hart, maar ek het geleer dis oukei. Jan is absoluut die wind onder my vlerke. Hy aanvaar my onvoorwaardelik. Hy is my anker en die een wat vir my bid,” beduie sy.

Maatskaplike werk is moeilike werk. Magda en haar span probeer om vir kinders veilige huise te kry.

“Die mense daar buite is baie oningelig. Hulle dink die lewe is wit en swart, maar daar is baie grys gebiede ook. Ons werk in die grys areas. Partykeer het ons geen ander keuse as om ‘n kind in die lesser of two evil situasies te laat nie.”

Wanneer hul wel ‘n kind uit moeilike omstandighede kan red en in beter omstandighede kan plaas, voel sy alles is die moeite werd.

Ten spyte van al die emosionele trauma wat sy al gesien en beleef het, al die kritiek en die sukkel, verklaar sy prontuit dat as sy weer moes kies, sy dieselfde studierigting sou kies en dieselfde paadjie sou volg.

“Ek verdra nie onreg nie en sal aanhou baklei vir die mense, en kinders, sonder ‘n stem.”

Magda en haar hart se punt en oudste kleinseun, Steph Naudé.

Haar huis is haar veilige vesting waar sy net kan ontspan en vrede vind na ‘n besige dag op kantoor.

Hier hou sy haar besig om ingewikkelde hekelpatrone te hekel of te brei. Sy skilder ook en beskou haar tye agter die esel as terapeutiese tye.

Dan red sy en Jan ook gereeld honde. Die egpaar is groot diereliefhebbers en het onder andere drie honde, varkies, bokkies, ‘n papegaai en twee donkies, Frikkie en Freda, op hul kleinhoewe in Viljoensdrift.

Eendag gaan hul aftree by hul vakansiehuis, Goedheid en Guns, in die Oos-Kaap. Dis eers eendag. Hul tweede kleinseun word in Julie gebore en Ouma Magda sê sy moet in die omtrek wees om te help grootmaak.

Magda saam met Frikkie, die donkie.

Hul oudste kleinseun is nou 18 maande en woon in Abu Dhabi. Hy is sy ouma se oogappel en toe sy onlangs daar gekuier het, moes sy self saam met hom op die klimrame klim. “Ek sal moet fiks word om by die twee by te hou,” lag sy lekker.

Dis Magda, die een wat hard kan baklei teen onreg, maar ook die een met die sagte hart en breë glimlag. By uitstek ‘n omgeemens.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button