‘n Laaste vaarwel van 73 nasate aan geliefde Oupa Henry
Wyle mnr. Van Lelyveld het 44 jaar by Union Steel Corporation (Usco) gewerk, waar hy as interne ouditeur afgetree het.
Vereeniging was deur die afgelope 130 jaar die tuiste van vele kleurryke inwoners wat almal op hul eie manier ‘n inspirerende stempel op die gebied afgedruk het. Een van hulle was mnr. Henry van Lelyveld van Arconpark, wat op 4 Julie na ‘n lang en geseënde lewe van 96 jaar oorlede is.
Die Van Lelyvelds het nog in Junie hul 75ste huweliksherdenking gevier. Min het hul naasbestaandes toe geweet dat die einde so naby was.
Mnr. Van Lelyveld is op 10 Mei 1926 in Lichtenburg as een van ses kinders op die delwerye gebore en het as jong man sy geliefde Charlotte Coetzer in Rustenburg ontmoet. Na hul huwelik het hulle na Vereeniging verhuis, waar hulle die afgelope 70 jaar bekende en geliefde inwoners geword het.
Ses kinders, wat almal nog leef, is uit hul huwelik gebore. Hulle is Annetjie (73), Ellen (72), Ben (71), Chris (69), Charlotte (65) en Henry (60). Altesaam is daar reeds 73 nasate, wat verskeie agterkleinkinders insluit.
“Pa was maar moeilik en streng, maar hy het ‘n sagte hart en ‘n oop hand gehad en baie omgegee vir sy kinders,” sê sy seun, Ben.
Wyle mnr. Van Lelyveld het 44 jaar by Union Steel Corporation (Usco) gewerk, waar hy as interne ouditeur afgetree het.
Die egpaar het daarna baie in Suid-Afrika sowel as in die buiteland gereis, en elke jaar vir drie maande in die winter by die Suidkus deurgebring. Mnr. Van Lelyveld se gunstelingvakansieplek was die Kruger Wildtuin, wat hy veel meer as 100 keer besoek het.
Tuinwerk was sy geliefkoosde stokperdjie en hy het nog tot in sy 90’s self kar bestuur.
Hy het op 2 Julie siek geword en is weens ontwatering in Mediclinic Vereeniging opgeneem, waar hy op 4 Julie onverwags gesterf het.
“Hy was ‘n goeie mens wat baie omgegee het vir ander. Vir my was hy ‘n wonderlike skoonpa en ek is dankbaar hy was deel van my lewe,” sê sy skoondogter, Margie van Lelyveld.
‘n Troosdiens is op 8 Julie by die NG-gemeente Fonteinedal in Sasolburg gehou. Mnr. Van Lelyveld se as gaan op ‘n geliefde plek in die Kruger Wildtuin gestrooi word.

**********************************************************************************************
