Oudskoolhoof se goeie raad aan jong onnies
Mnr. F.J. du Pisanie was ‘n man wat diep spore in die opvoedkundige, kulturele, sosiale en politieke lewe in Vereeniging getrap het.
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar weer terug na die mense en gebeure wat die stad help vorm het. Hier is ‘n berig oor een van ons stad se mense wat sy stempel op ons stad afgedruk het:
“Hengel is heilsaam. Niemand wat nog nie ‘n dag langs die viswaters deurgebring het, het ‘n begrip van hoe lawend en ontspannend hierdie buitelugsport is nie.”
Dit was die mening van mnr. F.J. du Pisanie, ‘n man wat diep spore in die opvoedkundige, kulturele, sosiale en politieke lewe in Vereeniging en die res van die Vaaldriehoek getrap het. Mnr. Du Pisanie was die stigtershoof van die Hoërskool Vereeniging – ‘n posisie wat hy vir baie jare tot met sy aftrede in die 1960’s beklee het.
Op soek na ‘n ander storie langs die Vaalrivier, het Vaalweekblad se verslagspan hom vroeg een oggend in 1980 langs die rivier in Driehoek, Vereeniging, waar hy na sy aftrede gewoon het, aangetref. Saam met hom was ‘n ou vriend en “hengelleermeester”, mnr. S.F. Haasbroek, wat ook welbekend in die Vaaldriehoek was as klerk van werke vir die destydse munisipaliteite van Vereeniging en Vanderbijlpark.
Albei die here, wat toe al diep in hul sewentigs was, het met oorgawe vertel hoe hulle as ‘n “klub van twee”, elke Vrydagoggend vroeg met visstokke, kos vir vis en mens, koffie en water, by die huis groet en afsit viswater toe. Mnr. Haasbroek was reeds ‘n gesoute hengelaar, maar vir mnr. Du Pisanie was dit ‘n relatief nuwe ervaring.
As die visse die dag goed gebyt het, was dit goed. Byt die vis die dag nie, is dit nog steeds ‘n heilsame, verkwikkende ontspanning om weg te kom van die stadsgeraas, en die stilte in die skadu’s van die bome langs die water te geniet, het die twee hengelaars vertel.
“Eintlik is ek jammer dat ek nie jare terug al begin hengel het nie,” het mnr. Du Pisanie gesê. Sy raad aan jong skoolhoofde en onderwysers was dat hulle tyd moes maak om te begin hengel omdat dit mens help om jou kop skoon te kry en spanning beter te hanteer sodat jy die daaglikse uitdagings met nuwe krag kan aanpak. Goeie raad wat tot vandag toe nagevolg kan word!

****************************************************************
