Local newsNewsNews

Sakekamer snoekfees elke jaar beter

'n Snoekfees in Vanderbijlpark in regte Kaapse winter weer.

VANDERBIJLPARK. – Die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC) het Woensdag, 27 Julie weer hul jaarlikse snoekfees aangebied.

Dit was die 14de fees, maar die eerste een sedert 2019 nadat die Covid-pandemie die fees vir ‘n paar jaar gekelder het.

Tessa en Piet Pienaar

Die fees word aangebied om besighede en sakelui die geleentheid te gee om saam te kuier en hul onderlinge netwerk op te bou.

Daar bestaan ‘n paar weergawes oor presies hoe en waar die fees posgevat het, maar Pierre Pienaar sê dit het alles begin met ‘n jaarlikse visvangkompetisie in Mosambiek sowat 20 jaar gelede.

“Daardie jare kon slegs dooie visse ingeweeg word en ons groep vriende het dus elkeen met omtrent twee vrieskaste vol vis teruggekom.

“Ons was die eerste jaar sowat 10 vriende wat saamgekom het en elkeen het hul vis gebring vir ‘n visbraai. Elke jaar was daar meer mense en het die visbraai groter geword,” onthou hy.

Die visvangkompetisie se reëls het in ‘n stadium verander en is die visse wat gevang is, weer vrygelaat. Hul wou egter nie van hul groot visbraai afstand doen nie.

Dis toe dat die sakekamer en MooiVaal Media hul gewig agter die groot visbraai gegooi het en siedaar, die snoekfees is gebore.

GTCoC bestuurslid Alice de Jager (links) saam met MooiVaal Media seAdvertensiebestuurder, Maretha Lombard.

Vanjaar is daar sowat 250 kaartjies verkoop en 50 snoeke is gebraai en saam met die tradisionele snoek bygereg, soetpatats, voorgesit.

Daar was ook heerlike skyfies, broodrolletjies en vyekonfyt. Die grys weer en skielike winterreëntjie het nie die gesellige atmosfeer gedemp nie, maar eerder bygedra om ‘n egte Weskus-gevoel te skep.

Soos gewoonlik was Tessa Pienaar aan die stuur van die kospotte met Rita Benecke, Jackie van Waveren, Charlotte Kritzinger, Alice de Jager en van Roco Mamas se personeel om haar by te staan.

By die visbraaivure het die braaiers fluks snoeke gesmeer en gedraai. Alice het trots gesê dat die knoffel wat tydens die braai gebruik is, van die Rita Benecke Landbouprojek geoes is.

Piet Pienaar, een van die fees se stigterslede, het gemoedelik staaltjies van vorige feeste rondom die snoekvure vertel.

Daar is heerlik gekuier, die koue weer ten spyt.

Soos die keer toe die fees langs die Vaalrivier gehou is en MooiVaal Media se Retha Fitchat en ‘n kollega gou badkamer toe is.

Retha het haar kamera op die tafel laat lê. Dit is al wat sowat 10 van die sakemanne nodig gehad het om ‘n stoute bevlieging te kry.

Hulle het almal in die water gaan hurk met hul broeke op die knieë en foto’s geneem. Retha het die foto’s ontdek toe sy by die werk kom.

Sy het ook nie op haar laat wag nie, maar dadelik ‘n “voorbladstorie” geskryf en dit na elkeen gefaks. Die manne het baie vinnig gevra dat sy asseblief tog nie die storie met die foto’s moet publiseer nie!

Tessa het in haar kort openingstoespraak gesê die fees is elke jaar ‘n groot geleentheid op die sakekamer se kalender. “Dis ‘n fees waar Vaaldriehoekers bymekaar kom en kan sê: ‘We got this.’

“Ons gaan besigheid weer aan die brand blaas in ons dorp. Ons dorp sal weer opstaan,” het sy gesê.

Die GTCoC voorsitter, Klippies Kritzinger, het op sy beurt almal vir hul bydraes bedank en spesifiek die Pienaar-familie genoem wat elke jaar die fees organiseer en die snoeke braai.

Hy het ook MooivaalMedia se Thys Foord en hul ander borge bedank vir volgehoue ondersteuning. Klippies het almal se gevoel mooi saamgevat toe hy gesê het: “Ons is almal dankbaar Covid is verby.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button