Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Ai jai jai... hoekom, oh hoekom kan mense nie ander mense se goed uitlos nie?
RUBRIEK. – Hierdie joernalis is die josie in. Eintlik kan ek aan ‘n paar beter woorde dink om die gevoel te beskryf, maar hierdie is ‘n gesinskoerant en ek wil nie die redakteur omkrap nie.
Sy is in ‘n baie goeie bui, want sy het verlede week ‘n splinternuwe motor gewen! Dis nie waaroor ek so moe… ehh … ek bedoel effens ontstig is nie. Ek is baie bly vir haar. Sy verdien dit!
Ek is vies oor my begroting vir die maand daarmee heen is en ons hele Saterdagoggend sommer dwars was.
Alles het begin toe Ma my vroeg Saterdagoggend wakker maak met die nuus. “Hier is nie water nie.”
Ek hoop teen alle hoop in dis ‘n nagmerrie en knyp my oë eers weer toe, maar met die oopmaakslag besef ek dis die nare waarheid.
Geen water nie. Ek begin die bure so stuk-stuk boodskap om te hoor waar spuit die water nou weer die lug in. Een vir een kry ek die boodskap terug: “Ons het water.” Dis ernstige sake die.
Ma bel die buurman skuins oor die straat, miskien het iemand die kraan buite toegedraai. Buurman stap dadelik oor om ondersoek in te stel.
Hy gee die gat in die grond (die deksel het jare gelede al voete gekry) net een kyk. “Die watermeter is gesteel,” verklaar hy.
Ek rapporteer dit op een van die hordes groepe wat daar bestaan. Geen reaksie nie. Dis Saterdagoggend. Wie gee nou om vir een huis sonder water oor ‘n naweek?
Gelukkig ken Ma ‘n baie goeie loodgieter en gelukkig gee hy om. Was ook nie lank nie, toe staan hy en sy span werkers op die sypaadjie.
Ek en Ma het intussen boorgatwater via die badkamervenster met die tuinslang in die bad getap, vir die wis en die onwis as die nood druk.
Nie dat die boorgatwater gedrink kan word nie. Dis jare gelede al getoets en ondrinkbaar verklaar, maar dit help darem vir die toilet.
Op die sypaadjie skud die loodgieter kop en beduie waar is die pyp morsaf gesny. Hulle sal moet oopgrawe, ‘n stuk pyp vervang en natuurlik die watermeter ook.
‘n Uur of wat en ‘n groot som geld (vir ‘n joernalis se salaris) later is daar weer water in die huis. “Hulle sal nie weer die watermeter steel nie, dis nou plastiek,” verseker die man ons.
Dankbaar ons het weer water, maar jinne was dit nou nodig? Wie moet mens blameer vir alles wat net lyk of dit koper in het wat gesteel word? Die mense wat steel of die lot wat die goed aankoop?
Hulle sê die deler is net so goed soos die steler. Ek dink dis hoog tyd dat die mense wat koper aankoop vasgevat word. As daar nie ‘n mark vir ‘n ding is nie, sal niemand dit steel nie.
Ag ja, was dit maar so maklik. Die probleem is baie meer kompleks as dit. Ek is nie by magte om dit uit te redeneer of oplossings te vind nie. Al wat ek weet is dat hierdie ‘n duur speletjie is.
Ek praat oor die naweek met ‘n vriend van my se ma wat in ‘n kompleks bly oor die watermeter-stelery.
“Ja, so ‘n paar jaar terug is die kompleks se watermeter ook gesteel. Ons was ‘n week sonder water voordat die munisipaliteit dit kom vervang het.”
Ten minste het die munisipaliteit se mense by hul opgedaag, nou se dae is die kans vir die Vaalrivier om in Desember te vries groter as vir die munisipaliteit om enige ordentlike diens te lewer.

