Skelms steel R42 000 se diamante by polisie
Selfs die hoof van die Diamant- en Goudtak, lt. kol. F.J. Crause, het deurgeloop. Die bende het ook sy diamantring en R200 kontant van hom wat hy in die kluis gebêre het, gevat.

Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dié mylpaal te herdenk, kyk Vaalweekblad in 2022 terug na die nuusgebeure en interessante mense wat die stad help vorm het.
Vermetele kluisdiewe wat nie skrik vir die lang arm van die gereg nie, het in Julie 1982 toegeslaan op ‘n kluis van die polisie se Diamant- en Goudtak in Vereeniging. Hulle het daarin geslaag om spore te maak met meer as R42 000 se ongeslypte staatsdiamante en sowat R4 500 kontant.
Oopgebrand
Vaalweekblad van 13 Julie 1982 berig dat twee brandkaste, die een staatseiendom en die ander een ‘n kluis van ‘n private instansie, die vorige Vrydagaand met behulp van ‘n sweisapparaat by die slotte oopgebrand is.
Selfs die hoof van die Diamant- en Goudtak, lt. kol. F.J. Crause, het deurgeloop. Die bende het ook sy diamantring en R200 kontant van hom wat hy in die kluis gebêre het, gevat.
Die staatskluis was slegs twee maande in die tak se besit en die ander kluis het die polisie daar gekry toe hulle die gebou betrek het.
Die ou kluis met die deftige Engelse naam “Milners’ Patent – improved, fire resisting & strong holdfast safe” was duidelik nie bestand teen die skelms wat Vereeniging se kontrei geteiken het nie!

*************************************************************************************
