LifestyleLocal newsNews

Stad se mense rou saam oor Swané na tragiese leeu-aanval

Alle lewens is kosbaar, maar wanneer ‘n kind van Vereeniging in ‘n onverwagse tragedie sterf, verenig die stad se mense in verdriet.

Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na groot nuusgebeure wat die mense van ons stad diep geraak het. Hierdie is een  so ‘n gebeurtenis wat steeds diep in die harte van Vaaldriehoekse inwoners insny:

Alle lewens is kosbaar, maar wanneer ‘n kind van Vereeniging in ‘n onverwagse tragedie sterf, verenig die stad se mense in verdriet. Ons kinders is mekaar se kinders.

Een so ‘n noodlottige voorval het op 6 Februarie 2020 afgespeel toe Swané van Wyk (21), wat in Drie Riviere grootgeword het, op die Zwartkloof-wildreservaat in Limpopo naby Bela-Bela, deur leeus aangeval is en gesterf het.

Swané was sedert haar kinderdae as leerling aan die Laerskool Risiville en Hoërskool Overvaal al gek oor die natuurlewe – ‘n loopbaan wat sy na skool gekies het. Na haar studies in Centurion het sy einde 2018 as wildbestuurder by die Zwartkloof-natuurreservaat aangesluit, waar sy met groot toewyding by die versorging van veral die leeus betrokke was. Van die leeus is met die hand grootgemaak en later in kampe geplaas. Hulle het Swané so goed geken dat sy hulle gereeld kon streel.

‘n Vriendin, Carla Claassens, het die betrokke dag by Swané deurgebring en agterna die verloop van die verskriklike gebeure aan Vaalweekblad se susterskoerant in Limpopo, Die Pos, vertel: Swané het laatmiddag voorgestel dat hulle gaan kyk of alles reg is by die leeukamp. Sy het gesien dat een van die waterkrippe ‘n toevoerprobleem het en het teen die draad gehurk om ‘n pyp te las. Hulle het albei opgemerk dat twee van die leeus aan die anderkant van die draad onnatuurlik optree en begin het om Swané te bekruip waar sy in ‘n hurkende posisie gesit het.

Swané is terug in die voertuig in en hulle het na die hek toe gery, waar Swané deur die draad aan die mannetjie, wat toe rustig was, gevat het. Die twee vriendinne het begin wegry, maar iets omtrent die mannetjie wat alleen by die hek gelê het, het Swané gepla. Sy wou vir oulaas terugdraai om seker te maak alles is reg. Sy het weer uit die voertuig geklim en in die leeukamp ingegaan terwyl Carla buite in die voertuig gewag het.

Die gebeure daarna het binne ‘n oogwink in ‘n traumatiese nagmerrie ontaard. Die mannetjie het Swané skielik teen die draad begin stamp en na haar gehap, waarna sy hom hard op die neus geklap het. “Sy het vir my gekyk en ek het vir haar gesê: ‘Moenie hardloop nie’. Die volgende oomblik het die mannetjie haar platgestamp. Die wyfie het haar daarna ook aangeval.”

Carla het die hek oopgeskuif en met die voertuig tot by die leeus gejaag. Sy het die motordeure oop- en toegeklap, die toeter geblaas en die wyfie met die motor probeer wegstamp. Die leeus wou egter nie padgee nie en Carla het na die reservaat se stoor en woonkwartiere gejaag om hulp te gaan soek.

Swané kon intussen blykbaar daarin slaag om uit die kamp te vlug, maar met die nooddiensspan se aankoms het sy reeds haar stryd weens bloedverlies verloor.

Haar groetdiens is op Valentynsdag, 14 Februarie 2020 by die NG-gemeente Drie Riviere-Oos gehou – drie dae voordat sy haar 22ste verjaardag sou vier.

Maar hoe kan haar geliefdes ooit regtig afskeid neem van dié sonnige natuurkind wie se positiewe lewensuitkyk, haar aansteeklike lag en unieke humorsin so kenmerkend was? Afskeid neem is nog nie moontlik nie. Soos haar ma, mev. Carla van Wyk, dit verlede week aan Vaalweekblad opgesom het: “As gesin het ons lewens drasties verander en mens sien die lewe uit ‘n ander oogpunt. Dis nou amper twee-en-’n-halwe jaar maar ons kan nog nie eers daaroor praat nie.”

Vaalweekblad, en sekerlik almal in ons stad, se harte gaan steeds uit na Swané se ouers, boetie Henco en haar vriende, vir wie die emosionele wonde van hul verlies nog te diep is om te begin genees.

 

Swané van Wyk

 

Swané by een van die leeus waarvoor sy so lief was.

********************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button