NewsNews

Vrou kontak polisie oor sy “verkrag” is, word in hegtenis geneem op ou diefstalsaak

Die Barrage polisie het bevestig dat hulle Vrydag (5 Augustus 2022) 'n 34-jarige vrou by 'n gastehuis in Lindequesdrift in Vanderbijlpark in hegtenis geneem het wat glo op 'n aanklag van diefstal in Table View, Kaapstad gesoek word.

BARRAGE. – Dit is welbekend dat die vrou bande met omstrede figure in die Kaapse onderwêreld – ondermeer Yuri “die Rus” Uliantski wat in 2007 in ‘n sluipmoordaanval vermoor is en die omstrede politikus Badih Chabaan – gehad het.

Sy het kort voor haar inhegtenisname Vrydag politici, hooggeplaastes en beamptes in die Suid-Afrikaanse polisiediens gekontak en beweer dat sy haar in ‘n “gekompliseerde en gevaarlike situasie” bevind en hulp nodig het.

Volgens die vrou het sy uit Kaapstad gevlug maar in ‘n lokval beland. Sy het beweer dat sy in Durban aangerand is en daar gelos is vir 48 uur. Van daar af het sy gevlug na ‘n gastehuis in die Lindequesdrift omgewing.

Sy praat ook van ‘n “afgetrede polisiebeampte” en ‘n lid van ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy wat haar “intimideer” en dreig dat sy in hegtenis geneem sou word.

Ek is sedert gister (Donderdag) in die kattebak van my kar,” lui ‘n uittreksel wat sy aan ‘n brigadier in die Suid-Afrikaanse polisiediens gestuur het.

Sy vra in die boodskap ook vir hulp om by ‘n kliniek uit te kom en vra vir ‘n verkragtingstelletjie.

Maar kort nadat die vrou kontak met die polisie gemaak het is sy in hegtenis geneem en na die Barrage-polisiestasie geneem, waar sy vir die naweek aangehou is.

Die inhegtenisname het Vrydag tussen 13:00 en 14:00 plaasgevind.

Vaalweekblad se verslaggewer het haar in die aanklagkantoor gaan besoek maar die polisiebeamptes het geweier dat ons met “die verdagte” praat en navrae na ‘n skakelbeampte vir die polisie verwys.

Sers. Thembeka Maxambela, ‘n woordvoerder vir die polisie, het in ‘n verklaring wat namens die waarnemende distrikskommissaris, brig. AM Nkhwashu uitgereik is, bevestig dat die vrou in hegtenis geneem is op ‘n aanklag wat deur die polisie van Table View in Kaapstad ondersoek word.

Toe die verdagte beweer het dat sy verkrag is het ons lede van ons eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe gekry om ‘n onderhoud met haar te voer soos ons in gevalle doen waar slagoffers verkrag is. Die verdagte het geweier dat ons ‘n onderhoud met haar voer en om hospitaal toe te gaan.”

Die verdagte se regte is aan haar voorgelees en ons het haar naasbestaandes in kennis gestel van haar inhegtenisname. Die Tableview Polisie sal die verdagte kom haal en sy sal die mag van geregtigheid in die gesig staar,” lees ‘n uittreksel uit die polisieverklaring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button