Local newsNewsNews

Gesin na 32 maande herenig

Die week het ek by Lizelle Samons gekuier wie se man, Charles nou al 32 maande alleen in Nieu-Seeland is. Gelukkig is daar nou lig op die horison vir die gesin.

VANDERBIJLPARK. – Lizelle Samons en haar dogter, Charlize se oë blink opgewonde. Hulle vliegtuigkaartjies is vir 11 Augustus bespreek.

Hulle is op pad Nieu-Seeland toe. Lizelle se man Charles, het 32 maande gelede daarheen verhuis.

Die plan was dat hulle al in Maart 2020 ook sou oorgaan. Hul visums was gereed, alles verkoop, die afskeidspartytjies gehou, maar ‘n week voor hul vertrek het die Covid-pandemie uitgebreek.
Landsgrense is gesluit en Lizelle-hulle was in Suid-Afrika gestrand.

Gesinne bid om Kersfees herenig te wees

Die ergste was dat hulle nie geweet het hoe lank die situasie sou duur nie. Uiteindelik het hulle by haar suster gaan woon en Charlize het aan die begin van die jaar haar graad 8 aan Hoërskool Driehoek begin. Die vreemde omstandighede het hul nuwe normaal geword.

“Gelukkig het ons ‘n sterk huwelik en albei van ons is baie gelowig, anders weet ek nie hoe ons dit sou gemaak het nie,” vertel Lizelle.

Baie huwelike het nie die geforseerde skeidingstyd oorleef nie. Die Samons-gesin het bly hoop vir daardie oproep wat sê hul visums is weer gereed en hul mag ook maar oorgaan.

Die oproep het uiteindelik laataand, 14 Julie gebeur. Charles het geskakel en gesê die immigrasiekantoor is op soek na hul agent, hul visas is gereed.

“Ons kon nie dadelik kaartjies kry nie. Die vliegkaartjies is ongelooflik duur, maar dit het weekliks gedaal en ons het nou kaartjies vir 11 Augustus. Ek is so verlig,” verduidelik Lizelle en sy straal.

Die gesin gaan hul nou in Whangarei in die noorde van Nieu-Seeland vestig. “Dit sal steeds ‘n groot aanpassing wees, maar Charles is al goed ingeburger by die werk en kerk en almal sien uit om ons te verwelkom,” sê Lizelle.

Daar was tye waar die stres te veel wou word. Tye waar hulle gewonder het of dit die regte besluit was en of dit die moeite werd was.

“Maar ons is baie geseënd en uiteindelik werk alles tog uit. Dis in krisistye wat mens besef hoe sterk mens regtig is en wat jy alles kan vermag. Ek het die afgelope 32 maande geleer om nie op my probleme te fokus nie, maar op die Here. Daar was so baie mense wat ons in hierdie tyd gedra het, en vir hulle sal ek altyd dankbaar bly,” beduie Lizelle.

Die Samons-gesin sal Suid-Afrika eersdaags weer besoek om die troue van hul oudste dogter, Abigail by te woon.

Dis eers Oktober, vir nou lê die lang vlug na Nieu-Seeland voor en die blye weersiens van ‘n gesin wat uiteindelik herenig word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button