Hamlet en Othello was wow… net wow!
Om weer vir 'n slag 'n Shakespeare produksie lewendig op die verhoog te sien was 'n besonderse ervaring.
SASOLBURG. – Net na 09:00 op Donderdag, 4 Augustus en in die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg kan die gedruis van jong stemme gehoor word. Verskeie skole is in die teater verteenwoordig. Die leerlinge is opgewonde en daar word selfies en videos van mekaar geneem.
Dan verdof die ligte en Clare Mortimer maak haar verskyning. Sy is reeds geklee vir haar rol as Gertrude, Koningin van Denemarke. Sy is ook regisseur van die twee William Shakespeare tragedies wat deur die loop van die dag opgevoer gaan word.
Die gehoor word dadelik stil. Word daar met aandag geluister na haar inleiding. “Shakespeare het nie sy toneelstukke geskryf om gelees of gestudeer te word nie. Dis geskryf om opgevoer te word. Ja, ons praat nie meer Shakespearian Engels nie, maar luister mooi en julle sal gou in die storie ingetrek word.”
Dis presies wat die gehoor by albei vertonings doen. Tydens Hamlet en daarna ook met Othello is die gehoor, wat meestal uit leerlinge bestaan, stil. ‘n Mens kan ‘n speld hoor val terwyl die dramas van lank geleë voor ons afspeel.
Die intrige, die spanning, die tragedie, afgewissel met tipiese Shakespeare raakvat komedie hou almal gevange in ‘n ander era en leeftyd.
Elkeen van die spelers vertolk hul rol tot perfeksie. Vergete is die akteurs, hulle is Hamlet, Horatio, Polonius, Ophelia en later Othello, Desdemona, Iago en vele meer. Dis eers wanneer die spelers vorentoe tree wat die gehoor ontplof.Na beide toneelstukke word die akteurs lank staande toegejuig.
Die leerlinge het van ver gekom. Daar is skole van Rustenburg, Mayfair, De Deur en Welkom. Vir albei vertonings is die teater vol. Wat ‘n verblydende gesig om te sien.
Margie Coppen, mede-regisseur saam met Clare Mortimer, sê hulle is al 20 jaar besig om Shakespeare se voorgeskrewe boeke vir leerlinge lewendig te maak. Teen 2019 het hul al meer as 32 000 leerlinge bereik.
Die produksie word op die planke gebring deur Think Theatre vanuit KwaZulu-Natal. Oorspronklik is die produksies net in Durban opgevoer, maar met die jare is dit uitgebrei om Johannesburg, Pietermaritzburg, Pretoria en Sasolburg in te sluit.
Sy is ook baie trots op elkeen wat betrokke is by die produksie. “Ek noem my spelers, “the little cast that can”, want hulle laat hul deur niks stuit nie. Soms voer hul die produksies in kleiner plekke se skoolsale op sonder hul beligting, die goeie klank van ‘n teater of hul gebruiklike stel, maar hul lewer steeds werk van uitstaande gehalte.”

Drie van die spelers Clare (Queen Gertrude in Hamlet en Emilia in Othello), Bryan Hiles (Hamlet in Hamlet en Roderigo in Othello) en Cara Roberts (Ophelia in Hamlet en Desdemona in Othello) was twee weke gelede in ‘n motorongeluk.
Clare speel voluit met ‘n gebreekte rib, Bryan het ‘n sny op sy kop wat se steke eers ‘n dag voor hul eerste vertoning uitgehaal is en Cara het ‘n beenbesering.
Tydens hul eerste vertoning van Hamlet op 4 Augustus het die ander spelers haar tydens die vertoning agter die verhoog rondgedra omdat sy nie op haar been kon trap nie. Aangegaan het hul aangegaan.
‘n Pluimpie vir almal wat betrokke is by hierdie produksies. Dis ‘n moet sien, eersteklas vertoning wat Shakespeare se besonderse taal, karakters en temas weer lewendig maak vir ‘n nuwe gehoor.
