VEREENIGING. – Landdros Chris Kruger het Daniel “Daan” Oppeman Lowings (68) in die streekhof in Vereeniging tot agt jaar tronkstraf gevonnis vir die dood van Leon du Toit (60).
Lowings was op 31 Augustus besig om ’n tuinstel van ’n ander inwoner by ’n huis in Redan te verwyder toe hy deur inwoners gekonfronteer is.
Du Toit en Lowings het glo in ’n stryery betrokke geraak.
Lowings het sy vuurwapen uitgehaal en Du Toit in die gesig geskiet.
Du Toit is later dood.

Landdros Chris Kruger het Lowings se vonnis vir vyf jaar opgeskort op die voorwaarde dat hy gedurende hierdie tydperk nie aan moord of enige soortgelyke misdrywe skuldig bevind word nie.
Een van streng voorwaardes van hierdie korrektiewe toesig vonnis is dat Lowings vir 24 uur per dag onder huisarres sal wees vir die duur van die vonnis sodat hy bewus kan bly van die element van straf.
Die Kommissaris van Korrektiewe Dienste word die magtiging gegee om die vonnis van huisarres op enige oomblik te suspendeer of te laat herinstel afhangende van die veroordeelde se voortgesette samewerking en nakoming van die voorwaardes, die mate waartoe die beskuldigde kan bewys wat hy betroubaar is en die mate waartoe die veroordeelde persoon positiewe vordering tydens die rehabilitasieproses maak.
Die huisarres geld nie wanneer Lowings inkopies moet gaan doen en korrektiewe programme of kerkdienste moet bywoon nie.
Nog ’n voorwaarde wat landdros Kruger gestel het is dat Lowings nie die landdrosdistrik van Emfuleni mag verlaat sonder dat hy vooraf toestemming van die kommissaris verkry het nie.
Lowings moet gedurende sy vonnis korrektiewe programme bywoon.
Hy mag nie gedurende die duur van die vonnis alkohol gebruik, dwelms neem of homself aan enige misdaad of wangedrag skuldig maak nie.
Hy sal sy vonnis in Vanderbijlpark uitdien.
Lowings bly daar sedert hy uit Redan getrek het.

Op die ander twee aanklagte wat met die skietvoorval verband hou is Lowings tot ses maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort word, op die voorwaarde dat hy gedurende die tydperk van die vonnis nie homself aan soortgelyke misdrywe skuldig maak nie.
Lowings bly onbevoeg om ’n vuurwapen te besit.
’n Familielid van wyle Leon du Toit sê die familie het vrede gemaak met die saak.
“Dit is verby,” het sy na afloop van die vonnis gesê.
“Ons het berusting. Ons is bly dit is verby,” het sy gesê.


