Marinda – Emerald se kreatiewe skakelbeampte
Ontmoet Marinda Human, Emerald Resort & Casino se energieke, kreatiewe skakelbeampte en kommunikasiebestuurder.
VANDERBIJLPARK. – Marinda Human geniet haar rol as skakelbeampte en kommunikasiebestuurder by die Emerald Resort & Casino. Sy het in KwaZulu-Natal grootgeword, maar sedert sy in 1989 matriek geskryf het, het sy haar al in Gauteng en die Wes-Kaap bevind.

Oktober sal sy ‘n jaar in die Vaaldriehoek wees. Dit is nie haar eerste kennismaking met Vanderbijlpark nie. Sy het in die vroeë 90’s aan die destydse Vaaldriehoekse Technikon geswot nadat sy eers ‘n soldoedie was in George by die SA Leërvrouekollege.
Sy het daarna nog ‘n jaar by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit. “Ek het op skool nie geweet wat ek wou word nie en daarom is ek eers weermag toe. Dis waar ek my passie vir skakelwese en bemarking ontdek het,” vertel sy met ‘n glimlag.
Deur die jare het sy by verskeie casino’s bemarking en skakelwerk gedoen totdat sy op ‘n stadium besluit het om haar vlerke buite die industrie te sprei.
“Ek het so ‘n bietjie gaan boer in die Wes-Kaap naby Riversdale en was ook ‘n besigheidskonsultant vir Discovery. In daardie tyd het ek besef ‘n mens kan baie meer doen as wat jy dink jy kan doen. Dis goed om jouself onder druk te sit. Ek sê altyd: “If you think it, you can do it.”
Alhoewel sy dit baie geniet het, het sy besef die casino industrie is in haar bloed. Daarom het sy die geleentheid om by Emerald te werk met albei hande aangegryp. “Ek geniet dit om iets van alles te doen en altyd meer te leer. Hierdie is ‘n baie unieke plek, ons het alles, van die dieretuin tot by die Aquadome.”

Marinda is ‘n natuurmens wat dit geniet om buitemuurs te stap. Dis die dat sy elke dag eerder tot by die hotel sal loop as om sommer net te skakel.
“Hier is altyd iets om te sien,” vertel sy. Wanneer sy die slag nie by die werk is nie, lees sy graag en doen enige iets kreatief. Tuinwerk is vir haar baie terapeuties en sy geniet dit baie.
“Dit is ook lekker om saam met vriende te kuier, want dan kan ek net ontspan.” Alhoewel sy die see mis, asook haar dogter wat in die Kaap agtergebly het, voel sy reeds tuis in die Vaal. “Die mense hier is baie verwelkomend.”
Haar kollegas lê haar na aan die hart. “Die mense saam met wie ek werk, is die lekkerste ding van my werk. Hulle is hartsmense,” vertel sy met blink oë.
Die Vaalrivier stil darem bietjie haar verlange na baie water. “Ek het by die see grootgeword, die dat ek die geruis van die water so baie mis.”
Op hoërskool was sy vir amper drie jaar in die koshuis en sy sê dit was baie besondere jare. “Ek het maklik aangepas en dit werklik geniet.” Sy het ook in haar studentedae in ‘n koshuis gebly en sê sy en haar vyf eerstejaarmaats is steeds vriende, al is hul nou wyd oor Suid-Afrika versprei.
“Ek dink die sirkel is nou voltooi. Ek het my studentedae hier deurgebring en nou is ek terug, en dis lekker.”
Marinda lag spontaan, gesels gemaklik en glo daaraan om ‘n positiewe uitkyk op die lewe te behou. “Niemand se lewe is net maklik nie. Ons almal gaan deur traumatiese ervarings. ‘n Mens kan nie beheer wat met jou gebeur nie, maar jy kan beheer hoe jy daarop reageer,” deel sy die wysheid wat net met jare se ervaring nesskop.

