Voortrekkers op pretbelaaide koers
Die Orion Kommando van Vanderbijlpark het hul nuwe kwartaal met 'n pretaand afgeskop.
VANDERBIJLPARK. – Die Orion Kommando van die Voortrekkers het die derde kwartaal met ‘n pretaand afgeskop.
Die jongelinge en offisiere het almal soos outydse boemelaars aangetrek en redelik gehawend by die saal opgedaag. Almal was gewapen met kat- of hondekos wat later vir diereorganisasies geskenk is.

Daar is lekker gekuier, speletjies gespeel en grappies vertel alvorens die “besgekledes” en beste grappies beloon is met geskenkbewyse van Rocco Mamas in Frikkie Meyer boulevard.
Kommandoleier Butch Blignault sê Orion bestaan tans uit sowat 60 lede wat almal van drawwertjies en penkoppe tot by die verkenners en offisiere insluit. Die laerskoolkinders word penkoppe en drawwertjies genoem.
Die Voortrekkers is oop vir almal vanaf Graad R tot volwassenes. Butch sê baie mense dink nog aan die Voortrekkers met die bruin uniforms van die 1980’s, maar die organisasie het intussen gemoderniseer.
“Ons fokus veral daarop om jeugleiers vir die toekoms te kweek en daarom is leierskapsontwikkeling baie belangrik.” Die laerskoolkinders leer ook die geskiedenis van die voortrekkers en Afrikaners. Hulle kan verskeie kentekens verwerf, wat noodhulp en kennis van die veld insluit.
Die groter kinders, of verkenners, het ‘n nog groter verskeidenheid van kentekens wat hul kan verwerf en sluit alles van wapenkunde tot by lewensredding en visvang in.
Daar is ‘n werkboek waarvolgens die offisiere klasse aanbied deur die loop van die jaar. Die kleiner kinders se lesse bevat baie speeltyd en die groter kinders, of verkenners, se lesse bestaan meer uit debatvoering en vrae en antwoordsessies.
Natuurlik is daar nog steeds vele kampe wat die kinders baie geniet. William Cooks een van die verkenners is nou 18 jaar oud en in matriek. Hy is reeds vyf jaar deel van die Voortrekkers en sê: “Die Voortrekkers het my ‘n beter mens gemaak. Dis baie lekker hier.”
Wanneer die passie vir die Voortrekkers posgevat het, los dit nie sommer weer nie. Alice De Jager is tans ‘n offisier by die Voortrekkers. “Ek was op skool ook ‘n Voortrekker en my kinders het in my voetspore gevolg. Ek geniet dit,” het sy met ‘n glimlag vertel.
Behalwe vir die skoliere en volwassenes kan studente en jong volwassenes ook as Staatmakers by die Voortrekkers aansluit. Hulle word ingespan as leiers op kampe, maar hoef nie permanente spanleiers te wees nie.
Indien jy belangstel om by die Voortrekkers aan te sluit, kontak gerus vir Butch by 082 587 5533.

